MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai het op Donderdag 31 Augustus, gasheer gespeel vir die streekuitdunne van die National Teachers Awards (NTA) wat op luisterryke wyse in die stadsaal plaasgevind het.
Tydens hierdie geleentheid is die Eden- en Sentraal Karoo-streek se afgevaardigdes na die nasionale onderwystoekennings aangewys. Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, Harry Levendal, self 'n oudonderwyser, het Naomi Fillies, 'n leerkrag verbonde aan Sao Bras Hoërskool gelukgewens met die toekenning vir uitnemendheid in hoërskoolonderrig.
Fillies is reeds meer as 20 jaar 'n onderwyser en bied Engels eerste addisionele taal aan vir die gr. 12-leerders.
Burgemeester Levendal het David Sampson (OBOS in George) en sy span gelukgewens met die uitstekende byeenkoms.
"Ek dink dat hulle uitstekend daarin geslaag het om die soms moedelose leerkragte daardie ekstra woema te gee. Die kategoriewenners blyk gunstelinge van oor die streek, en veral van hul onderskeie skole te wees."
'n Vorige goewerneur van die SA Reserwebank Gill Marcus, was die geleent-heidspreker. Sy het gesê leerders se toekoms steun sterk op innovasie en nog meer innovasie van die kant van leerkragte.
Van die gaste het opgemerk dat dit verblydend was dat soveel borge betrokke was en het Anton Titus, die aand se programleier gelukge-wens met die verruklike atmosfeer wat onder sy leiding geheers het.
"Aan die gesigte van die onderskeie wenners kon 'n mens duidelik sien wat die impak en sukses van erkenning op 'n aand soos hierdie is."
Die nasionale onderwystoekennings word sedert 2000 aangebied om erkenning te gee aan opvoeders wat uitsonderlike werk verrig.
Die geleentheidspreker, Gill Marcus, voormalige goewerneur van die Reserwebank, het leerkragte aangemoedig om meer innoverend te wees.Foto's: Sharlton Groenewald
Die wenners is deur hul kollegas in verskillende kategorieë genomineer, onder meer:
Uitnemendheid in Laerskoolonderrig - Irene Brink van Laerskool George-Suid
Uitnemendheid in Laerskoolleierskap -Thembekile Bango van Thembalethu Primêr
Uitnemendheid in Graad R Onderrig - Ivana Palmer van Fraaisig Primêr
Uitnemendheid in Spesiale behoeftes en inklusiewe onderrig - Jani Hoffman van Olympia Vaardigheidskool
Uitnemendheid in Tegnologie-verbeterde, onderrig en leer-toekenning - Mariëtte Vorster van Touwsranten Primêr
Uitnemendheid in Wiskundeonderrig (AOO) - Yonela Jaxa van Thembalethu Primêr
Nelson Mandela Lewenslange Prestasie-toekenning - Charles Carelse van Heidedal Primêr.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeesters-komitee het Naomi Fillies, 'n leerkrag verbonde aan Hoërskool Sao Bras, gelukgewens met haar toekenning vir uitnemendheid in hoërskoolonderrig.
'n Paneel beoordelaars besoek die kandidate, waarna hulle deurdring na die distriksuitdunne. Die wenners van die onderskeie distrikte neem weer deel aan die provinsiale uitdunne, waarna die nasionale kompetisie plaasvind. Aanloklike pryse is op die spel. Die nasionale wenners van die 2016-kompetisie het elk 'n splinternuwe motor ryker geword.
Lees 'n vorige artikel: Sao Bras-leerkrag wen spogtoekenning
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'