MOSSELBAAI NUUS - Santos Haven Outekompleks bied op Saterdag, 14 September, om 10:30 'n lentefees aan.
Daar sal pannekoek, bazaarpoeding, boereworsrolle en hoendersosaties te koop aangebied word by die kompleks te 2 Schoemanstraat, Heiderand op Mosselbaai.
Heerlike gebak
Daar is ook 'n koektafel met heerlike gebak en 'n naaldwerktafel met tuisgemaakte items.
Konfyte, ingelegde vrugte, Kersversierings, skoonheidsprodukte, gebreide goedere, pragtige tuisgemaakte groetekaartjies, en nog vele meer sal te koop aangebied word.
Daar sal 'n Tombola-stalletjie wees waar lekker pryse gewen kan word terwyl looitjiekaartjies ook 'n magdom heerlike pryse in 'n gelukstrekking op die spel sal hê.
Die Marimba-orkes van die Kids Kingdom-skool sal van die vermaak verskaf.
Toer
'n Toer is ook vir besoekers gereël om die fasiliteite en twee skouhuise te besigtig.
Santos Haven beplan ook 'n mini-veiling met wonderlike pryse waarop gebie kan word.
Koffie, tee en koek kan in die buiteteetuin geniet word.
Dit sal alles ten bate van Santos Haven se fondsinsamelingprojek wees. Vir meer inligting, kontak Debbie de Kock (072 676 0916).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’