Na die aanstelling van die sentrum se nuwe hoof, mev Elize Wolmarans, is daar verskeie aanpassings gemaak om peuters, kleuters en skoolkinders se dagverblyf nog meer interessant en opvoedkundig te maak. Verskeie verbeteringe aan die dagbestuur is ingestel om kinders veilig en ouers meer gerus te laat voel.
Volledig gebalanseerde ontbyte en middagetes word ingesluit by die sorgpakket.
"Die verbeterde geriewe by Sandkasteel laat ons toe om die huidige 55 dagsorg kinders tussen die ouderdom van 3 maande tot Gr RR (5-6 jaar), asook nasorg tot Gr 7, te verdubbel terwyl elke kind steeds individuele aandag en heeltydse toesig sal geniet" sê mev Wolmarans.
"Nie alleen is dit baie bekostigbaar nie, maar die Sorgoord verrig 'n baie belangrike rol met gespesialiseerde opvoedkundige opleiding vir Graad RR-kinders wat skoolgereed gemaak moet word, terwyl lewensvaardighede aan die heel kleintjies oorgedra word."
Families waar beide ouers werk is nie meer die uitsondering nie en ouers voel dat die versorging van hulle kroos in die hande van verantwoordelike en bekwame persone gelaat moet word.
Bekwame onderwyseresse met deeglike ondervinding maak elke dag kinders se leefwêreld belangrik en interessant terwyl aandag gegee word aan kognitiewe balans, sosialisering, speel-, leer- en aanpassingsprosesse.
Al die klaskamers is baie goed toegerus met al die geriewe om kinders te stimuleer en te ontwikkel. Die diens word gereeld gemonitor deur die ACVV se opgeleide sielkundige en welsynbeamptes.
Maar alles is nie net klaswerk nie, 'n kind moet speel ook.
Die ruim grastuin van die oord bied baie speelplek op swaaie, klimkastele en selfs 'n bietjie boomklim vir die dapperes.
Die noodhulptassie word altyd vol gehou vir daardie klein, onvermydelike ongelukkies met 'n pleister, 'n salfie en 'n soen op die eina!
Nasorg vir skoolgaande leerders (tot Gr 7) word ook aangebied. 'n Bussie laai die kinders by hul skool op en bring hulle na 'n rustige atmosfeer waar hulle onder toesig huiswerk kan doen.
Vanjaar gaan Sandkasteel gedurende die Kersvakansie oop wees. Ouers (selfs buitestaanders) kan kinders in die oord se sorg plaas terwyl hulle ander verpligtinge nakom.
Enige werkende ouers, wat voel dat hulle kinders kan baat by die professionele sorg van Sandkasteel se Kindersorgoord, word uitgenooi om mev Wolmarans te kontak vir 'n afspraak en besoek op telefoon 044 6911039.

Die nuwe hoof van Sandkasteel, die ACVV Kindersorgoord, Elize Wolmarans.