MOSSELBAAI NUUS - 'n Bekende in buurtwagkringe en inwoner van Heiderand, Peggy Roux (53) gaan haar seun John Scholtz (27) vanjaar vir die eerste keer in 15 jaar vir Kersfees by haar hê.
Dít is te danke aan 'n kompetisie waarvoor Peggy ingeskryf het ter waarde van R50 000 genaamd, Bring the one you love home these holidays wat deur Kfm 94.5 en Makro aangebied word.
Dit sluit in R30 000 se vliegtuigkaartjies en 'n R20 000-geskenkbewys van Makro.
In 'n hartroerende boodskap aan dié Kaapstadse radiostasie het Peggy die afgelope week aan Darren Simpson vertel dat John in Nederland woon en dat sy hom drie jaar laas gesien het, en 15 jaar laas saam met hom 'n Kersfees gevier het. Peggy en haar ander twee kinders, 'n seun en 'n dogter het ook in Nederland gewoon, maar in 2005 het hulle na Suid-Afrika teruggekeer. Haar eksman en John het agtergebly. John het self besluit om in Nederland sy skoolloopbaan te voltooi, omdat hy dislekties is en gemeen het dat hy daar beter ondersteuning by die skool sou ontvang.
Boerekos vir Kersfees
Peggy se man op Mosselbaai was 'n jaar gelede in 'n ernstige motorfietsongeluk duskant Sedgefield en het eers twee maande gelede weer begin werk. Syself het vir 'n geruime tyd nie voltyds werk gehad nie en het onlangs ook eers werk gekry.
Dit was dus buite die kwessie vir hulle om by John te gaan kuier of om vir John te betaal om 'n Kersfees in Suid-Afrika by sy familie te spandeer.
Peggy was oorstelp van vreugde toe Simpson haar die afgelope week met die goeie nuus bel. Sy het John aan die radiostasie as 'n superstar beskryf. "Hy het geen familie meer in Nederland nie, want sy pa het ook intussen weggetrek. Hy is heeltemal op sy eie daar," het 'n emosionele Peggy oor die radio gesê. Hulle gesels slegs een keer 'n maand met mekaar op Skype en wanneer John na Suid-Afrika kom sal Peggy hom graag met boerekos wil bederf.
Kfm het Peggy en John gelyktydig telefonies gekontak en ma én seun was in trane toe hulle die blye tyding ontvang. Boonop het John oor die radio vir sy ma vertel dat hy deesdae ook 'n meisie het en dié gaan saam met hom huis toe kom vir Kersfees. John het aan Simpson vertel dat dit die moeilikste is om oorsee te woon, sonder enige familie. "Dit was 'n harde paar jaar en die ergste is om weg te wees van my familie, om almal te sien grootword, maar nie daar te kan wees om dit te beleef nie... dit is die swaarste."
Peggy sê haar familie gaan Kersdag aan tafel eet en sy gaan vir John skaapboud, hoender, rys, pampoenkoekies en groenbone maak vir ete.
"En natuurlik malvapoeding en vla. Of sommer malvapoeding met vla én roomys!"
Toeka se dae. 'n Foto van Peggy en haar seun John wat jare gelede geneem is.
'n Onlangse foto van Peggy se seun, John Scholtz en sy meisie, Rachel Dhont.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'