RUITERBOS NUUS - Ná jare van toegang tot slegs ’n mobiele kliniek het die Ruiterbos-gemeenskap nou hul eie, splinternuwe Ruiterbos-kliniek gekry.
Die kliniek is amptelik op Maandag 28 September geopen - die Wes-Kaapse minister vir gesondheid en welstand, Mireille Wenger, het die lintknipseremonie behartig.
“Die nuwe satellietkliniek is ’n belegging van R3 miljoen in plaaslike gesondheidsorg,” het Nadia Ferreira, die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand (WKDGW) se woordvoerder in die Tuinroete en sentrale Karoo-distrik, gesê.
Die projek is deur die departement van minerale en petroleumhulpbronne van stapel gestuur en deur middel van Transand se sosiale en arbeidsplan uitgevoer. Die WKDGW (in vennootskap met hierdie belanghebbendes en die Mosselbaai-munisipaliteit) sal die fasiliteit beman en bedryf.
Alle amptenare en vennote teenwoordig het die waarde van vennootskappe benadruk, iets waarsonder hierdie kliniek nie moontlik sou wees nie.
Mosselbaai-burgemeester Dirk Kotzé sê die opening van die kliniek is nog ’n stap in die rigting van toenemende toegang tot verbeterde gesondheidsorgdienste vir alle gemeenskappe. “Dankie aan die departement van minerale en petroleumhulpbronne, Transand en die Wes-Kaapse regering vir hierdie vennootskap wat sommige van ons kwesbaarste inwoners dien.”
Die kliniek bevat twee konsultasiekamers, ’n observasiekamer, ’n wagarea, ’n ontvangs- en medisynekamer, ’n personeelkamer, toilette vir pasiënte en personeel, asook ’n spoelfasiliteit.
Dit sal elke Dinsdag en Donderdag van 09:00 tot 15:00 in werking wees, en ’n kliniese verpleegkundige praktisyn en ’n stafverpleegster sal dienste aan pasiënte lewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’