MOSSELBAAI NUUS - Rugbygeesdriftiges in die Suid-Kaap sien met groot belangstelling uit na vanjaar se rugbyseisoen.
Soos gewoonlik gons dit hierdie tyd van die jaar op sosiale media tussen die onderskeie SWD-premierligaklubs se ondersteuners.
Die groot vraag, natuurlik: Wie gaan dié jaar met die louere wegstap?
En dan is daar vrae soos: Gaan Heidelberg hierdie jaar vir die vierde agtereenvolgende keer in die eindstryd speel? Watter van die nuwelingklubs gaan verras?
Dit is nog te vroeg om enige voorspellings te maak, maar vir seker gaan 'n paar klubs wil voortbou op hul spelpeil van die 2025-seisoen.
Die Evergreens (die huidige kampioene) en Heidelberg, wat verlede jaar in die eindstryd kragte gemeet het, kan hulself maar staal vir 'n groot aanslag van die ander spanne af.
Met die deurwinterde Johan Lerm weer aan die stuur van af-rigting gaan Groot-Brakrivier beslis op verlede jaar wil verbeter.
Hulle bure, die Barbarians, wat laas in 2018 in 'n eindstryd was, het vir die laaste twee seisoene belowend vertoon, maar kon nie die uitspeelrondes haal nie.
Ten spyte van 'n paar senior spelers wat hierdie jaar nie vir die klub beskikbaar is nie, bly dié span nog steeds 'n fors in die liga.
Blanco, wat in die 2024-halfeindronde teen Groot-Brak vasgeval het, is ook 'n span waarmee daar rekening gehou moet word.
Progress, wat ook verlede jaar in die half-eindronde teen Heidelberg die onderspit gedelf het, gaan beslis wil voortbou op dit wat hulle tot op daardie punt besorg het.
Bridgton sal húl stempel wil afdruk, aangesien dié span in 2024 en 2025 in die halfeindronde vasgeval het.
Dan is daar natuurlik die Harlequins van Oudtshoorn, die Riversdal Blues, en die twee nuwelinge, die All Blacks (ook van Oudtshoorn) en Silver Stars van George, wat kan verras.
In die onmiddellike toekoms is daar egter groot opgewondheid oor die vriendskaplike wedstryde vóór die aanvang van die liga.
Vir die laaste paar jaar meet die Barbarians en Groot-Brak in dié wedstryde kragte.
Hierdie twee se eerste kragmetings is op 14 Februarie op D'Almeidapark en 28 Februarie op Groot-Brak se Greenhaven-stadion, alom-bekend as die House of Pain.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’