MOSSELBAAI NUUS - Dat om 'n boek te skryf nie kinderspeletjies is nie, dis nou maar wors. Só het 'n groep woordliefhebbers wat Saterdagoggend, 14 September na bekende skrywers Mari Roberts en Bets Smith geluister het, opnuut besef.
Dié twee bedrewe skrywers het by die Monroe Teater kom gesels oor woordkuns en veral die statistiek oor wát mense lees het 'n paar wenkbroue laat lig.
Mari Roberts, 'n maatskaplike werker van Knysna, droom reeds van haar kinderdae af om te skryf. Sy het etlike titels in die romanza-genre die lig laat sien. "Mense steek mos ons boeke weg of hulle lees dit skelmpies as kortverhale in tydskrifte," lag sy. Roberts se verduideliking van hoe tegnies die skryf van 'n romantiese verhaal is, was egter 'n openbaring. Sy het ook verduidelik hoe hierdie genre met rasseskrede verander het, omdat die helde en heldinne nie meer dieselfde karakters kan bly as desjare nie. "Ons skryf vandag om ons lesers, veral vroue te bemagtig, daarom moet ons karakters geloofwaardig wees."
Sy het na die romanza-genre verwys as "sprokiesverhale vir grootmense". Boonop is die fokus van hierdie verhale, die emosie anders as wat baie mense uit onkundigheid soms dink.
Bets Smith, wie se krim-verhaal Dooiegety in Augustus verskyn het, vertel dat sy nooit aspirasies gehad het om te skryf nie. Sy is 'n leser. "Eendag dink ek, kom ek pleeg 'n boek en kyk wat gebeur." Groot was haar verbasing toe hulle vir haar sê "moenie ophou nie". "Ek was so uit die veld geslaan dat ek nie eens 'n skuilnaam gekies het nie."
'n Groep woordliefhebbers wat Saterdagoggend, 14 September na bekende skrywers Mari Roberts en Bets Smith geluister het.
Smith skryf ook in die romanza-genre waar sy groot sukses behaal het. Volgens statistiek, is die Amerikaanse romanza-mark maar net 'n kort kop agter die topverkoper, die riller-genre - onderskeidelik 1,08 biljoen dollar en 1,09 biljoen werd.
Soveel as 16% van Amerikaanse mans is erkende romanza-lesers. Hoewel vroue die grootste gros van die romanza-lesersmark in Suid-Afrika is, lees 2% van Suid-Afrikaanse mans ook graag hierdie boeke.
Beide skrywers was dit eens dat romantiese fiksie beslis die moeite werd is om te skryf. "En te lees. Daar is niks om oor skaam te wees nie. Mense moet iets kan lees wat ontvlugting bied," het hulle eensgesind bygevoeg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'