DANABAAI NUUS - “Daar moet nog baie water in die see loop.” Só sê Nickey le Roux, wyksraadslid van wyk 11, oor die voorstel van ’n gemeenskapspark vir Danabaai.
Mossel Bay Advertiser het verlede week berig oor ’n item vir die verkryging van ’n erf neffens die OK Grocer in Danabaai wat in ’n onlangse raadsvergadering gedien het.
“Daar is nog nie sprake van ’n gemeenskapspark nie, hoewel die konsep daarvan onder meer motivering is vir die verkryging van die grond,” sê Le Roux.
Sodra onderhandelinge afgehandel is, sal die munispale bestuurder, Colin Puren, die uitsluitsel daarvan na die raad bring, waarna ’n besluit oor die verkryging sal volg.
Le Roux sê: “Dán eers kan die konsep van die voorgenome gemeenskapspark voor die raad dien en, indien suksesvol, sal ’n openbare deelnameproses volg, wat die uiteindelike raadsbesluit oor die park, al dan nie, sal lei.”
Sy sê daar is ruim motivering vir ’n gemeenskapspark, maar dat dit nie bedoel is as ’n plek net met swaaie en ’n rondomtalie nie.
“Indien goedgekeur, sal dit ’n strategiese belegging in die toekoms van ’n groeiende en ontwikkelende gemeenskap wees wat spreek tot die kritieke leemtes in infrastruktuur in Danabaai, wat inklusiewe ekonomiese en omgewingsdoelwitte aanmoedig en bestem is om die lewensgehalte vir alle inwoners te verbeter.”
Puren het tydens die raadsvergadering gesê dit is voortydig om nou al oor kostes vir die verkryging van die grond te spekuleer.
Hoewel die erf se waarde volgens die munisipale waardeerder R9 720 000 is en die geskatte ontwikkelingskoste van die park R5 400 000 mag beloop, het die burgemeester, Dirk Kotzé, gesê daar is verskeie voorstelle om hierdie koste tot die minimum te beperk.
Die voorstelle vir die gemeenskapspark skakel onder meer in by die gemeenskapswerkswinkel met die Danabaaiers oor planne met die gebrekkige parkering in Danabaai se sakekern en die stedelike ontwerpriglyneprojek vir Floraweg wat Dinsdagaand gehou is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’