MOSSELBAAI NUUS - Die Here skep elke kind met ’n doel, en as onderwyser het jy die voorreg om deel van die fasilitering van hierdie skeppingsdoel te wees.
Dít, sê skoolhoof Van Wyk Dames, is een van sy gunstelingfasette van die onderwys. Dames is tans aan die stuur van King’s College by die Outeniquasbosch Wildlife Village, ’n nuwe privaat skool buite Hartenbos wat in 2025 amptelik sy eerste leerders verwelkom het.
Hierdie jaar is al Dames se 38ste een in die onderwys, sy 32ste een as ’n hoof en sy 21ste een as ’n hoof in die Mosselbaai-omgewing.
Baie sal hom onthou as die voormalige hoof van Milkwood Primary (2009-2024). Die volgende jaar het hy die uitdagende maar belonende posisie as hoof by King’s College opgeneem toe die skool gestig is.
Loopbaanhoogtepunte
Nes die voorreg om ’n deel van kinders se lewenspad te kan wees, het drie uitstaanoomblikke in sy loopbaan ook te doene met bevoorreg voel.
“Om op hierdie stadium in jou onderwysloopbaan ’n geleentheid te kry om ’n skool te begin - ek dink dit is seker my hoogtepunt. Daar is baie ander, maar om die geleentheid te kry om my passies, soos my liefde vir die Here en onderwys, hier by King’s College te kan uitleef is seker dié hoogtepunt. Bitter min mense kry daai geleentheid [om iets van die grond af te begin].”
Dan was daar ook sy tyd as hoof van Piet Retief Laerskool in die Suid-Afrika van die 90’s. “Die voorreg om as jong persoon [29] ’n skool in 1994 te kon lei - saam met al die verandering in ons land, om dit te kon navigeer, om deel van dit te kon gewees het - was rêrig iets spesiaal.”
Hy sê hy is met die beginsel van gelykheid grootgemaak, en om deel van hierdie oorgang in die onderwys te gewees het was ’n besonderse ervaring.
Grootwordjare
Dames se kinderjare saam met sy ouer broer en jonger suster was op ’n plaas in die noorde van KwaZulu-Natal, naby ’n klein dorpie genaamd Nquthu. Hy het by Dundee se bewaarskool, laerskool en hoërskool klasgedraf, en plaaskind en koshuiskind is natuurlik byna sinoniem met mekaar.
Hy was maar ses jaar oud toe hy koshuis toe is.
Hoewel dit later van tyd beter geraak het, het hy as klein seuntjie níks van die koshuis gehou nie en wou hy “soveel as moontlik, so gou as moontlik” weer op die plaas kom. Naweke was vir skoolsport en die plaasbuitelug, sê hy. “Ons was ’n bietjie betrokke by die boerdery; dit maar saam met jou pa geleer, en dan was dit visvang en sover as moontlik saam met ons maatjies in die veld wees.”
Een van twee dinge
Dames sê hy het maar altyd gedink sy pad vorentoe ná skool sou of in die bediening of die onderwys gewees het. “Mense was maar altyd belangrik gewees, vir almal in ons gesin; ons was baie betrokke by die kerk.”
Hy het egter ook ’n liefde vir kommersiële vakke gehad, en het selfs vir ’n handelswetenskapp?graad ingeskryf, maar het op die uiteinde op onderwys besluit. “Die roeping was net sterker gewees,” sê hy. Dit, en die invloed wat goeie onderwysers op ’n mens se lewe gehad het ook. Hy onthou spesifiek vir juf. Dalene Rainsford.
“Sy het vir my in die hoërskool geskiedenis gegee; ongelooflike onderwyser en baie goeie mensekennis en ’n kind van die Here ook.”
En so is hy in 1983 na die Durbanse Onderwyskollege toe, “waar ek my vrou [Mariet] ontmoet het, die hoogtepunt,” lag hy.
Mariet en Van Wyk leef ook saam hul onderwysliefde by King’s College uit, hy in die hoof se kantoor (en ook in die klaskamer) en sy by die grondslagfase as departementshoof.
Wenresepte en Vrydae
Die belangrikste bestanddeel in die King’s College-resep is “die besef van ons afhanklikheid van God en sy genade”.
Van Wyk en sy span weet waar hul krag vandaan kom. “Ek is gegrond in die Here. En saam met dit, die regte mense wat die visie deel wat jy vir die skool het. Ek dink dit is wat ons by King’s College reggekry het. Daar is samehorigheid en ons almal trek in dieselfde rigting saam om die ambisie te vervul.”
Sy huisresep behels minstens drie maal ’n week braai. Dít is algemene kennis, erken hy laggend. Vrydagaand, byvoorbeeld, is sy en Mariet se tyd saam. Dan gaan die gesprek soms so:
Van Wyk: “Liefie, waarvoor is jy lus?”
Mariet: “Ag, jong, ’n ou ribbetjie sal maar nou lekker wees!”
En dan gebeur dit ook so. “So, ’n staanrib op ’n Vrydag saam met my vrou is een van my lekker tye.”
Maar dis darem nie al wat hy doen nie. “Ek probeer ’n bietjie fietsry, ek hou baie van stap en dan hou ons van reis. Albei ons kinders woon in Hong Kong, so dis vir ons lekker om vir hulle te gaan kuier of om te reis.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’