MOSSELBAAI NUUS - 'n Kranige tienermeisie van Mosselbaai spog met 'n toekenning wat sy sopas van Bernina ontvang het vir haar naaldwerkprojek. Die Fabric Fun-kompetisie is in Augustus aangebied vir verskillende Bernina-takke landswyd. Mosselbaai spog boonop met 'n paar deelnemers wat plek behaal het.
Die spogtoekenning het egter gegaan aan die 14-jarige Andalé Els.
Andalé, wat 'n tweede plek behaal het met haar uitrustings in die afdeling vir hoërskoolleerders (Secondary School Grades 8-12 Sewing Option). Sy het die Sew Easy so Perfect-naaldwerkkursus by Bernina Mosselbaai voltooi waartydens sy verskeie tegnieke geleer het. Andalé doen maar slegs die afgelope jaar naaldwerk. Sy kry egter tuisonderrig en is daarom in die bevoorregte posisie om wel die kursus by Bernina te kon doen.
Met haar poging het Andalé 'n Lutterloh-patroonmaaksisteem ter waarde van R2 800 gewen. Wat haar prestasie verder besonders maak, is dat die bekende mode-ontwerper Gert-Johan Coetzee, handelsmerkambassadeur vir Bernina ook onder die beoordelaars was.
Andalé beoog om volgende jaar 'n klere-ontwerpkursus ook by Bernina by te woon waar sy haar kreatiewe denke nog verder sal kan ontwikkel.
Sy droom daarvan om moontlik haar eie klerereeks te kan begin.
"Die lekkerste ding wat 'n moederhart bly maak is die wete dat my dogter nooit eerste prys wou wen nie.
"Sy wou spesifiek die tweede prys wen omdat sy met die patroonstel haar eie patrone wil teken. En so het dit dan uitgedraai.
"Andalé het baie ambisie en ek vertrou sy gaan nog ver kom," meen Andalé se ma, Alet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'