MOSSELBAAI NUUS - Na aanleiding van 'n Facebook-plasing wat raadslid Lodewyk Coetzee in Februarie gemaak het, is dit onder die speaker, Venolea Fortuin, se aandag gebring dat hy moontlik die gedragskode vir raadslede oortree het.
Volgens die deel van die kode waarop die beweerde oortreding van toepassing is, moet 'n raadslid die funksies van die amp in goeder trou, eerlik en op 'n deursigtige manier verrig en ten alle tye in die beste belange van die munisipaliteit optree, en op so 'n manier dat die geloofwaardigheid en integriteit van die munisipaliteit nie in gevaar gestel word nie.
Volgens die speaker se verslag het Coetzee, raadslid vir wyk 8, 'n plasing gemaak "wat neerhalend en/of beledigend en/of aanstootlik was teenoor die Afrikaanse gemeenskap".
Die plasing is in Engels gedeel en het onder meer die volgende bevat:
"I am ashamed of the actions of my culture as a Afrikaner. God placed me in this time in history, because if I were to be an adult during the apartheid years, I would have been the same as Beyers Naude and other Afrikaners that stood up against their own. Think again at how you raise your children, God teaches us that we should love our neighbour as ourselves. The Afrikaner often sees themselves as a Christian people, then live it!"
Coetzee het daarna die plasing verwyder en in 'n ander plasing daarvoor om verskoning gevra.
'n Onafhanklike ondersoek het op prima facie-gronde bevind dat Coetzee moontlik die kode oortree het.
Coetzee het deur sy regsverteenwoordiger op die beweerde oortreding reageer. Hy het die oortreding van die gedragskode kategories ontken.
Hy sê ook hy het die kommentaar in sy privaat hoedanigheid en op sy privaat (en beperkte) Facebook-blad gemaak, en dat die kommentaar op selfkritiek neerkom.
Die onafhanklike ondersoeker meen die saak regverdig verdere ondersoek, onder meer weens die volgende redes:
• Die kommentaar het nie net op selfkritiek neergekom nie, en dit was duidelik dat daar na die Afrikaner-kultuur as geheel verwys word en dat die kommentaar een demografiese groep/kultuur uitgesonder het.
• Dit is nie gepas om te meen die kommentaar is in Coetzee se privaat kapasiteit en nie sy verteenwoordigende kapasiteit gemaak nie. Die raadslid is 'n verkose lid van die raad en kan nie sy verpligtinge en verant-woordelikhede om aan die kode te voldoen laat vaar nie.
• Die raadslid se respons moet versigtig oorweeg en geweeg word teen die daaropvolgende terugtrekking van die Facebook-plasing en die geskrewe verskoning waarin erken word: dat hy 'n oordeelsfout gemaak het; dat hy sy opinie/kommentaar teenoor Afrikaanssprekendes veralgemeen het; en dat sy kommentaar onsensitief en beskadigend was. Hierby het hy ook onvoorwaardelik om verskoning gevra.
Dit alles in ag geneem het die speaker gesê die saak moet na die gedragskodekomitee vir verdere ondersoek verwys word en dat die komitee 'n gepaste voorstel aan die raad moet maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’