MOSSELBAAI NUUS - Na afloop van 'n voorval by die gesamentlike beheersentrum (JOC) op 3 Desember 2024, is dit onder die speaker, Venolea Fortuin, se aandag gebring dat raadslid Leon van Dyk moontlik die gedragskode vir raadslede oortree het.
In so 'n geval word daar, ook volgens die gedragskode, van die speaker vereis om 'n ondersoek na 'n voorval te loods en 'n verslag oor die beweerde oortreding van die kode aan die munisipale raad voor te lê.
Volgens dié verslag word dit beweer dat Van Dyk, wyk 10-raadslid en portefeuljevoorsitter vir gemeenskapsveiligheid, 'n munisipale werknemer in die teenwoordigheid van ander individue (insluitende haar ondergeskiktes) gedurende 'n opleidingsessie geminag en/of verkleineer het. Die sessie is deur die munisipaliteit gereël en by die JOC gehou.
Dit word ook beweer dat Van Dyk met die bestuur en/of administrasie van 'n munisipale departement ingemeng het, sonder die mandaat om dit te doen.
'n Onafhanklike ondersoek na die voorval het op prima facie-gronde bevind dat die raadslids moontlik twee dele van die kode oortree het:
• 'n Raadslid moet die funksies van die amp in goeder trou, eerlik en op 'n deursigtige manier verrig en ten alle tye in die beste belange van die munisipaliteit optree, en op so 'n manier dat die geloofwaardigheid en integriteit van die munisipaliteit nie in gevaar gestel word nie.
• 'n Raadslid mag nie, tensy volgens wet voorgeskryf, met die bestuur of administrasie van enige departement van die munisipale raad inmeng nie, tensy dit deur die raad gemagtig is.
In 'n geval van die beweerde oortreding van die kode kry 'n raadslid die geleentheid om op die bewerings te reageer.
Van Dyk beweer, onder meer, dat die klagtes teen hom polities gemotiveerd is; dat dit die werknemer was wat haarself op 'n onvanpaste manier gedra het en daardeur die beeld van die JOC en munisipaliteit skade aangedoen het; en dat hy in sy kapasiteit as voorsitter van die raad van direkteure vir die maatskappy sonder winsoogmerk opgetree het en nie as raadslid nie.
Die onafhanklike ondersoeker meen die saak regverdig verdere ondersoek, onder meer weens die volgende redes:
• Die meeste van die raadslid se reaksies spruit uit beweerde voorvalle wat voor en/of na die beweerde voorval op 3 Desember plaasgevind het. Dit mag irrelevant wees vir die doel van die beweringe teen hom.
• Gebaseer op sy respons bestaan daar twee teenstrydige weergawes van hoe en wat presies gebeur het. Wat egter nie in dispuut is nie, is dat die raadslid inderdaad op sy eie die verrigtinge op 3 Desember tot stilstand gebring het.
Dit alles in ag geneem het die speaker gesê die saak moet na die gedragskodekomitee verwys word vir verdere ondersoek en dat die komitee 'n gepaste voorstel aan die raad moet maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’