MOSSELBAAI NUUS - Die polisie het verlede week in die Tuinroete op vervalste huishoudelike items ter waarde van duisende rande beslag gelê, en ook op Mosselbaai.
Polisiewoordvoerder, sers Chris Spies sê 'n operasie is van Maandag, 16 September tot Vrydag, 20 September gehou.
Spies sê tydens die eerste been van die operasie is tandepasta, reukweermiddel, skoenpolitoer en verskeie selfoonbykomstighede met 'n geraamde waarde van R95 000 by 'n perseel in Hiberniastraat in George gekonfiskeer.
Drie verdagtes tussen die ouderdomme van 21 en 29 jaar is in hegtenis geneem op aanklag van handel in vervalste goedere en het sedertdien in die George-landdroshof verskyn.
Op Knysna en Plettenbergbaai is beslag gelê op huishoudelike items ter waarde van meer as R510 000.
Drie Pakistanse burgers tussen die ouderdom van 20 en 25 jaar is in hegtenis geneem vir die oortreding van die Immigrasiewet.
Op Mosselbaai en Oudtshoorn is meer as 5 000 vervalste goedere gekonfiskeer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’