TUINROETE NUUS - Na aanleiding van verskeie huisinbrake in die Groot-Brakrivier omgewing, het die polisiestasie se woordvoerder, sers Chantel Marais tesame met die Midbrak-buurtwag 'n beroep op inwoners gedoen om veiligheidwenke toe te pas en hopelik so die misdaad te verminder.
"Geen voorsorgmaatreëls is 'n waarborg dat jy nie 'n slagoffer sal wees nie.
"Dit is egter steeds belangerik om te verseker dat ons inwoners oor die kennis beskik om sy of haar omgewing te beveilig," sê Marais. Volgens Marais is dit belangrik om polisieverklarings vir alle huis- en tuinwerkers te laat aflê.
"Kry werkers se identiteitsdokumente, foto's en adresse tydens aanstelling."
Juacques Radley van die Midbrak-buurtwag vra inwoners om die buurtwag of polisie te kontak indien verdagte persone of voertuie in die omgewing opgemerk word.
Veiligheidsmaatreëls
• Maak seker dat jou woning veilig en gesluit is.
• Indien jou sleutels wegraak, vervang die slotte en kry nuwe sleutels.
• Sorg vir goeie beligting rondom jou woning.
• Ken jou bure. Ruil foonnommers uit en hou 'n ogie oor mekaar se wonings.
• Kontak die SAPD, buurtwag of gebruik jou alarmknoppie wanneer jy onraad vermoed.
• Sorg vir genoegsame sekuriteit, diefwering, veiligheidshekke, alarmstelsel en omheining.
• Ken alle noodnommers. Leer ook jou kinders om die nommers te bel.
• Moet nooit sleutels in deure laat nie.
• Indien daar by jou woning ingebreek word, ontvang onmiddelik die slotte.
• Installeer slotte by skuifdeure.
• Sorg dat jou gordyne saans toegetrek word.
• Moenie tuingereedskap buite laat rond lê nie. Dit is gereedskap wat vir inbrake gebruik kan word.
• Moenie waardevolle items in die huis laat rondlê nie.
• Beloon jou werknemers vir bruikbare inligting wat misdaad kan voorkom.
Kontak die Groot-Brakrivier-polisiestasie by 044 620 3361 of die Midbrak-buurtwag by 076 666 8934.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'