Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Talle inwoners het tot op hede al slange teëgekom met die warmer weer wat sy opwagting maak.
Twee lesers, Dave en Sue Uberstein, vertel van hul onlangse ondervinding tydens 'n staptog op Victoriabaai.
Hulle sê hulle moes ongeveer 15 minute wag by die Victoriabaai ou spoorweg toe hulle op pofadders afkom.
Hulle moes terugkom by die parkeerarea, en daar was geen ander pad as dié waarop die pofadders was nie.
Die paartjie het die slange op 'n video vasgevang terwyl hulle gewag het:
Die Mosselbaai-munisipaliteit het ook ter voorbereiding vir die warmer weer en vakansieseisoen voor hande, inwoners gewaarsku om bedag te wees op slange en nié self hierdie diere te hanteer nie, maar dié werk aan kundiges oor te laat.
Die munisipaliteit het onlangs 'n werkswinkel in slanghantering gehou.
Die werkswinkel is aangebied deur Tim Vorster van die African Snakebite Institute.
Onderwerpe wat behandel is, het ingesluit slangbewustheid, noodhulp vir 'n slangbyt en die hantering van giftige slange.
Onder die aanwesiges was bemanning van Mosselbaai brand-, redding- en rampbestuur asook kollegas werksaam in die afdeling water en sanitasie, wat dikwels slange in hul natuurlike omgewing by waterwerke in die munisipale gebied teëkom.
Slange wat gereeld in die Mosselbaai-omgewing aangetref word, is die pofadder, Kaapse kobra en boomslang.
Lede van die publiek word versoek om, wanneer hulle 'n slang in hul huise, erwe of kampeerterrein teëkom, nie te probeer om dit te verwyder nie.
Kontak Mosselbaai brand-, redding- en rampbestuursdienste (044 606 5121) of die Mosselbaai-munisipaliteit (044 606 5000).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’