TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Die see het die afgelope naweek weereens onwelkome plastiekkorreltjies op verskeie strande langs die Suid-Kaapse kuslyn uitgespoel. Nurdles, soos die balletjies bekend staan, het ook in 2017 op plaaslike strande uitgespoel.
Die plastiekballetjies is 'n groot probleem vir marienediere.
Dit absorbeer besoedelingstowwe en word giftig. Seediere en -voëls sien dit vir kos aan, wat tot 'n wrede dood lei omdat dit nie verteer nie.
Nurdles word in die vervaardiging van byna alle plastiekprodukte gebruik.
Veilige verwydering
Mosselbaai-munisipaliteit doen 'n beroep op die gemeenskap om bedag te wees en om nurdles, waar moontlik vanaf strande te verwyder.
Dit moenie saam met die gewone huishoudelike afval weggegooi word nie, want dit kan ook vir voëls en diere op die stortingsterrein skadelik wees. Dit kan in plastieksakke of byvoorbeeld margarien- en joghurtbakkies geplaas word.
Die publiek kan dan die naaste bewarea of S.M.A.R.T. (Stranded Marine Animal Rescue Team)-verteenwoordiger kontak om veilig met die korreltjies weg te doen.
Volgens Hessequa-munisipaliteit kan dit by die naaste munisipale kantoor (Gouritsmond en Stilbaai) afgegee word.
Dit kan ook in die spesiale houer wat deur die De Dekke Spar in Groot-Brakrivier voorsien word, of in die komende week in die asblikke by die ablusiegeriewe by die verskillende strande weggegooi word. Mosselbaai-munisipaliteit sal dit dan uit hierdie asblikke haal en korrek wegmaak.
"Ek bedank ons gemeenskap vir hul besorgdheid oor die omgewing en dat hulle die moeite doen om hierdie probleem van ons strande te verwyder," het die waarnemende burgemeester, Dirk Kotzé gesê.
Kommer
Val Marsh, 'n vrywilliger van S.M.A.R.T. het by navraag gesê dat 'n groenseeskilpad, asook 'n baba karetseeskilpad op Saterdag, 3 Oktober op onderskeidelik Hartenbos en Tergniet se strande gevind is. Beide skilpaaie is tans in die sorg van dr. Frans de Graaff op Hartenbos.
"Ons is baie bekommerd oor die teenwoordigheid van mikroplastiek op ons stande," sê Marsh.
"Hierdie omgewingskrisis is ontstellend. Dit voel asof ons vir elke tree vorentoe, twee treë teruggestoot word."
Volgens haar spandeer S.M.A.R.T. se vrywilligers dikwels ure op strande om nurdles op te tel. "Dit is geweldig tydrowend en uitputtend.
Lede van die publiek help graag, tot hulle ure lank deur die sand moet sif om na kleurlose nurdles te soek."
Marsh is van mening dat 'n massa-bewusmakingsveldtog geloods moet word. Bewareas op Danabaai, Mid Brak asook Groot Brak deur middel van WhatsApp-groepe en Facebookblaaie bewusmaking deur middel van foto's en inligting gedoen.
Indien daar nie 'n aflaaipunt naby is nie, kan lede van die publiek die nurdles stoor tot tyd en wyl of kontak met S.M.A.R.T. (072 227 4715) maak wat dit sal oplaai. "S.M.A.R.T. sal voortgaan om hulle bydrae te lewer en hul uiterste bes doen om soveel nurdles moontlik op te tel, maar ons het baie meer hande nodig om ons te help."
Val Marsh van S.M.A.R.T.
So lyk die nurdles van naderby. Foto's: Mariska Visagie
Verwante artikels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'