HARTENBOS NUUS - Die VLV se 92ste SWD-sirkelkonferensie is vanjaar in Maart deur die Hartenbos-tak aangebied.
By dié geleentheid word toekennings aan die onderskeie takke en individuele lede oorhandig vir hul prestasies gedurende die vorige termyn, asook vir artikels wat vir die konferensie gemaak is.
Verskeie artikels in kategorieë vir kunste en handvlyt, leefstyl en kookkuns is deur die verskillende takke se lede ingehandig om beoordeel te word.
By die aanvang van die konferensie is beide die VLV-vlag en landsvlag by die venue, die Lede in Christus Kerk, ingedra. Michelle Stevens het die konferensie geopen, waarna oudburgemeester Marie Ferreira die vredeskers aangesteek het. Dié kers simboliseer dié vroue se verbintenis met vroue oor die hele wêreld.
Die Mosselbaai-omgewing se takke, Hartenbos, Voëlvlei en Klein-Brakrivier, het met beide die individuele en taktoekennings die gebied goed verteenwoordig.
By die spesiale toekennings ontvang Voëlvlei ’n sertifikaat vir sigbaarheid in die gemeenskap, en een van die lede, Elize Locke, die sertifikaat vir die mees uitstaande artikel (borduurwerk) by die konferensie.
Hartenbos het ’n sertifikaat vir ledestyging ontvang en Klein-Brak vir entoesiastiese bydrae tot die Vrouelandbouvereniging Kaapland (VLVK) se webblad. Die SWD-sirkel is een van 17 wat die VLVK uitmaak.
Hartenbos het ook twee trofeë ontvang: een vir die grootste ledestyging en die ander vir die meeste punte vir kookkuns. Voëlvlei het die trofee vir die tak met die meeste punte vir leefstyl gewen.
Plaaslike individuele wenners:
Kunste en handvlyt (VLVK)
• Koffie en tee (skilderkuns) - Petro Coetzer, 75% (Hartenbos)
• Opvoedkundige boek (handvlyt) - Petro Coetzer, 84% (Hartenbos)
• Digitale advertensie (woordkuns) - Elize Locke, 74% (Voëlvlei)
Kunste en handvlyt (sirkel)
• Tekstuur: pasta (handvlyt) - Petro Coetzer, 88% (Hartenbos)
• Decima deur Eben Venter (boekbespreking) - Naomi Geeringh, 76% (Hartenbos)
• Mees uitstaande artikel - Petro Coetzer, opvoedkundige boek
Leefstyl (VLVK)
• Kruissteek met wol (borduurwerk) - Elize Locke, 85% (Voëlvlei)
• Somerrok (masjienwerk) - Sandra Nolte, 83% (Voëlvlei)
• Trui in kabels oortrek (breiwerk) - Tilla Schoeman, 79% (Hartenbos)
Leefstyl (sirkel)
• Twee tartanplekmatjies (hekelwerk) - Elize Locke, 83% (Voëlvlei)
• Mees uitstaande artikel - Elize Locke, kruissteek met wol
Kookkuns (sirkel)
• Perskeatjar (gebottel) - Dawn Greyling, 78% (Klein-Brak)
Die SWD-bestuurspan is soos volg: Elize Locke (president), Lydie Terblanche (visepresident en landbou- en tuinbousameroeper), Christine Coetzee (leefstylsameroeper), Carol Scott (tesourier), Marlene Lucas (sekretaris), Valeria Terblanche (opvoeding- en kultuursameroeper), Maryna du Preez (openbare sakesameroeper), Petro Doman (kunste- en handvlytsameroeper) en Lynette Nel (gesondheidsameroeper).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’