MOSSELBAAI NUUS - Die Kaapse Khoi Kultuur Erfenis-ontwikkelingsraad van Suid-Afrika het die naweek van 11 tot 13 April sy nuutverkose ampsdraers en portefeuljehouers met 'n /nau-ritueel by De Hoek kampeerterrein in Outdshoorn bevestig.
Jeremy van Wyk (inheemse naam: Dao!goasoa), 'n stamhoof, is die porte-feuljehouer vir kultuur, grondsake en erfenisterreine.
Hy het vroeër sedert 2010 die kultuur-erfenisportefeulje behartig. Sy taak vir 2025 tot 2030 is nou uitgebrei met grondsake as kernfokus.
Hy strewe nou om kulturele eenheid tussen alle Suid-Afrikaners en spesifiek die Khoi-Khoi- en Boesmansgroeperinge te bevorder.
Van Wyk is in 2013 as stamhoof van die Outenikwa Hoogekraal- en Wildernisstreek van die ontwikkelingsraad ingesweer.
Die raad se nuwe bestuur staan onder die leiding van opperhoof Reginald Boezak, stamleier van die Hessekwa.
Boezak het na die /nau-verrigtinge sy bestuurslede amptelik seën met hul taak toegewens, en ook die nuwe portefeuljehouers van die kultuurorganisasie aangekondig.
Hy het hulle van sy volle ondersteuning verseker, solank hulle ook hul grondwetlike bepalinge vir die volgende vyf jaar toegewyd sal eerbiedig.
Van Wyk het gedurende 2014 tot 2020 die suksesvolle Potskerf Inheemse Navorsingsentrum in Oudtshoorn bestuur.
Hy het ook van 2002 tot 2013 as 'n vrywillige gids vir besoekers en skoolgroepe by die Bartolomeu Dias-museum op Mosselbaai diens gedoen.
Van Wyk is tans as 'n interprovinsiale gids by navorsingsprojekte vir Eden FM betrokke, in samewerking met 'n internasionale inheemsekultuurorganisasie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’