MOSSELBAAI NUUS - Veertig jaar gelede, in 1985, is Pierre Lamprecht van die arbeidsbediening vertel.
Hy was in daardie stadium 'n plaasbestuurder in die Mosselbaai-distrik en sou moontlik op 'n familieplaas in die Vrystaat gaan boer het.
"Maar toe voel ek geroepe vir arbeidsbediening. Pietie le Roux van George se arbeidsbediening het my opgelei, en toe het ek begin.
"Vandag gaan ons na 200 maatskappye in die hele Mosselbaaise munisipale gebied - tot Herbertsdale, Vlees-baai, Groot Brak, Brandwag, Glentana en meer."
Hy sê hulle besoek sakeondernemings, plase, die gevangenis - "Ons is 80 lidmate van verskillende kerke."
Lamprecht het in Mosselbaai grootgeword en sê hy wil graag hier bly. "Ek hou baie van Mosselbaai se mense en ek is baie lief hulle. As jy die arbeidsbediening doen, dan is jy die heeltyd tussen mense."
Hy kan nie uitgepraat raak oor die ander funksies van die bediening en die opleiding wat hulle ontvang nie. Hy het ook verskeie rolspelers uitgesonder wat passievol in die bediening werk.
Solank as wat die bestuur dit goedkeur, sê Lamprecht, wil hy graag met die arbeidsbediening aanhou.
"Ek probeer 'n ware kind van die Hemelse Vader wees, as ek myself moet beskryf. Ek probeer altyd vriendelik teenoor al die mense wees en ek probeer naby aan die Hemelse Vader lewe en toegewyd te wees. Dis my strewe."
Tesame met Lamprecht se 40 jaar se toegewyde diens vier die Arbeidsbediening Mosselbaai ook sy 40ste bestaansjaar.
Dít het die bediening oor Lamprecht te sê gehad:
"In Mosselbaai het die bediening se reis 40 jaar gelede onder die toegewyde leiding van Pierre Lamprecht begin. Hy was 'n integrale deel van die bediening se groei en sukses in Mosselbaai en het oor die afgelope vier dekades 'n bekende en gerespekteerde figuur binne talle plaaslike besighede geword. Sy onvermoeide pogings het ongetwyfeld die bediening se diep wortels in die gemeenskap gevorm."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’