MOSSELBAAI NUUS - "Hy was 'n ongelooflike sterk en wyse mens, baie van sy vriende het na hom op gekyk. Hy was 'n unieke mens met goeie waardes."
Só sê Wilmarie Pretorius oor haar man, Etienne Pretorius (32), wat op Sondag 18 Januarie in 'n motorfietsongeluk op die N2 dood is.
Pretorius se liggaam is die betrokke oggend omstreeks 09:00 langs die N2 duskant KwaNonqaba gevind.
Suid-Kaap polisiewoordvoerder, Ao Chris Spies sê 'n voorlopige ondersoek dui daarop dat Pretorius se liggaam en sy motorfiets agter 'n heining langs die hoofweg in 'n oopveld gevind is.
Hy is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.
Spies sê 'n lykskouing sal gehou word om die oorsaak van dood te bepaal.
Pretorius het aan Mossel Bay Advertiser gesê haar man het amper elke naweek sy motorfiets gery.
Die gesin woon op Mosselbaai.
"Op 'n Saterdag was dit ek en hy, ek op my scooter en hy op sy bike. Daarna het hy saam met ander motorfietsryers gaan ry," sê Wilmarie.
Wilmarie en Etienne het mekaar 11 jaar gelede deur 'n vriend van elkeen ontmoet.
Hy was 'n pa van drie kinders, Jeanne-Marie (13), Sion (7) en Elia (1).
Sy ouers, Gert en Rina, sy twee broers Tiaan en Eugene, en sy motorfiets vriende sê hulle sal hom verskriklik mis.
Die KwaNonqaba Polisie het 'n saak van strafbare manslag geopen. Pretorius se begrafnis vind op Vrydag 23 Januarie plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’