Update
MOSSELBAAI NUUS - Dit gaan, onder die omstandighede, goed met Lumari Mentz (22) nadat sy op 23 Desember etlike meters ver geval het toe ’n reling by die Big Blu Restaurant by die Punt in Mosselbaai meegegee het.
Lumari het saam met haar familie in Danabaai vakansie gehou en was op die betrokke dag saam met familielede by die restaurant. Die gesin woon in Standerton.
Haar pa, Manus Mentz, sê sy het op haar rug geval waarna dele van die reling op haar gesig en liggaam beland het.
Sy het verskeie rugwerwels gebreek, asook dele van haar kakebeen.
“Sy is 100% reg met haar brein en haar nek. Daar is niks fout met haar kop nie,” sê Mentz.
Lumari is aanvanklik na Life Bay View Privaat Hospitaal geneem en later na Mediclinic in George oorgeplaas.
Sy het Dinsdagaand ’n lang operasie ondergaan en is tans in die intensiewesorgeenheid.
’n Neurochirurg het haar ruggraat gestabiliseer op die plekke waar dit gebreek het. Hoewel haar rugstring nie beskadig is nie, was dit onder druk weens ’n gebreekte werwel. Volgens Mentz was die operasie suksesvol en ervaar sy reeds minder pyn.
Hierdie foto van Lumari Mentz is op die dag van die voorval in Mosselbaai geneem. Foto: verskaf
Sy het vandag, 26 Desember, ook ’n operasie aan haar kakebeen ondergaan om die breuke te heg. Dit was volgens haar pa suksesvol.
“Daar is tans geen verdere beplande operasies nie. Sy het gevoel in haar bene, wat vir ons baie positief is. Sy het egter nog nie gevoel in haar voete nie, en dit is op hierdie stadium moeilik om te voorspel wat die prognose vir die toekoms sal wees,” sê hy.
Dokters het die familie daarop voorberei dat ’n lang rehabilitasieproses voorlê.
“Ons probeer om dit nie vooruit te loop nie en vat dit dag vir dag. Ons is net ongelooflik dankbaar dat Lumari leef,” sê Mentz.
Na verwagting sal sy nog sowat tien dae in die hospitaal bly, waarna sy na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas sal word.
“Ons is ongelooflik dankbaar vir almal wat ons gekontak het en vir die gebede wat ons gedra het. Ons het boodskappe van regoor die land ontvang. Die ambulanspersoneel wat vinnig op die toneel was, asook die dokters by Bay View en George Mediclinic, was uitstekend. Soveel mense het ons daardie dag gehelp – ons is werklik uit die veld geslaan deur almal se behulpsaamheid. In hierdie tyd sien ons baie wonderwerke.”
Vorige artikels:
One person injured after falling from Big Blu upper deck
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’