MOSSELBAAI NUUS - Harry Gird, ’n bekende oudonderwyser van Hoërskool Punt, is verlede week ná sy lang stryd met alzheimers oorlede.
Gird se familie sê hulle is oorval met liefde en troostende boodskappe en het hul opregte dankbaarheid daarvoor uitgespreek.
Saam met die boodskappe het daar ook vrae oor sy begrafnis gekom.
Dit was egter sy wens dat daar nie ’n openbare diens moet wees nie en dat sy as stilweg by die see - ’n plek waar hy altyd vrede gevind en beleef het - gestrooi moet word, met net sy gesin teenwoordig.
Volgens sy familie het Harry hom altyd oor mense ontferm, “en om vir ander iets te doen, was wie hy was. Hy sou dit waardeer as almal wat ’n tydjie opsy sou gesit het om sy diens by te woon, liewer daardie tyd vat en iemand wat dit nodig het, bystaan. Gaan kuier, reik uit met ’n WhatsApp of oproep, vind uit hoe dit regtig gaan en help waar nodig - pay it forward.”
Harry het baie lewens aangeraak as alumnus, wiskundeonderwyser en toegewyde skoolhoof, maar veral as ’n betrokke, vriendelike en bedagsame mens, vertel sy familie.
Een van Punt se huidige wiskundeonderwysers, Lance van Niekerk, het self ook al by Harry wiskunde gekry. Hy was vir hom ’n inspirasie, nie net op skool nie, maar nog vir jare daarna ook.
“Oom Harry was meer as net ’n onderwyser; hy was die rede vir soveel suksesverhale waar jongmense hul passie kon vind en uitleef,” sê Van Niekerk.
“Vir my was hy ’n ware rolmodel, die soort mens wat ek wou wees. Dit was sy onwrikbare geloof in sy studente en sy opregte omgee wat hom werklik van die res onderskei het. Hy het sy klasse met liefde en wedersydse respek aangebied, ’n plek waar ons gesien en gewaardeer gevoel het.
"Hy was ’n ware heer wat konsekwent die behoeftes van ander bo sy eie gestel het. Sy invloed het ver buite die gebied van getalle en vergelykings gestrek. Hy het ’n gevoel van moontlikheid en selfvertroue by ons wakker gemaak, sodat ons na ons drome kon streef. Dit is geen oordrywing om te sê dat sy impak op my lewe my direk op die pad gelei het om self ’n wiskundeonderwyser te word nie.
“Sy teenwoordigheid sal diep gemis word, ’n leemte wat nooit werklik gevul kan word nie. Tog sal die lesse wat hy ons geleer het, die waardes waarvolgens hy geleef het en die liefde wat hy gedeel het vir altyd in ons harte gegraveer bly. Hy sal nooit vergeet word nie.”
Harry se familie sê enigeen wat hom geken het kan hul herinneringe op Facebook deel. Hy was self ook baie aktief op dié platform. Sien sy profiel hier: https://www.facebook.com/harry.gird
“As familie nooi ons jou hartlik uit om jou herinnering, ’n staaltjie of boodskap oor Harry te deel deur dit op Facebook te plaas en hom te tag dat dit op sy blad voortleef. Ons wil sy Facebook-blad as ’n huldeblyk en herinnering behou, want hy het dit altyd so geniet om op Facebook te gesels en plasings te maak. Jou woorde sal help om sy gees en nalatenskap vir almal wat dit sou besoek, lewend te hou.
“Ons glo deel van Harry sal voortleef in elke student wat hy geïnspireer het, elke kollega wat hy ondersteun het en elke lewe waarmee sy pad gekruis het.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’