Gallery
MOSSELBAAI NUUS - "Ons vra niks van julle nie, net dat julle ons op julle gebedslysie sal hou."
Dit was pastoor Neil Williams se woorde Maandagoggend, 26 Julie tydens Eden Mercy Care se viering dat hulle vir 'n jaar, onder moeilike omstandighede, volhoubaar aan behoeftiges kon kosgee. Die byeenkoms is op die perseel van die herlewingsentrum in Sampsonstraat gehou, Eden Mercey Centre se basis.
Die organisasie bestaan reeds sedert die 2000's en het 'n goedtoegeruste kombuis en kantoor by die herlewingsentrum.
Williams het verduidelik dat die organisasie veel meer in die gemeenskap doen as om bloot noodsaaklike voeding te verskaf.
Nadat hy sy loopbaan by PetroSA jare gelede vaarwel geroep het toe hy 'n sterk roepingsbesef vir die bediening ervaar het, het hy verskeie dienste aan die gemeenskap by Eden Mercy Care ingelyf.
Dit sluit in vaardigheidsontwikkeling, kinder- en jeugontwikkeling, traumaberading, asook ondersteuning aan diegene wat aan MIV/Vigs ly of van alkohol en dwelms afhanklik is, en dies meer.
Tydens die grendeltydperk verlede jaar, moes van hierdie noodsaaklike dienste opgeskort word. Die behoefte aan kos binne die gemeenskap was egter 'n al hoe groter kwessie.
"Waar ons aanvanklik net enkele gesinne met kospakkies kon help, het ons deur genade alleen ons dienste uitgebrei na 'n maaltyd wat daagliks aan 350 verskaf word. Dit is hoekom ons vandag se viering hou, omdat ons dit volhoubaar kon doen vir 'n jaar," verduidelik Williams.
Williams sê dat hulle organisasie geen staatsubsidie ontvang nie, maar die steun geniet van Kindersorg Riversdal en dat alle personeel van Eden Mercy Care, vrywilligers is.
Kos word voorsien volgens 'n databasis sodat daar rekenskap aan skenkers gegee kan word. Die organisasie doen ook tuisbesoek as deel van hulle monitering en om seker te maak dat hulle hul vinger op die pols hou wat die nood in die gemeenskap betref.
Raadsdame Rosina Ruiters, die wyksraadslid en 'n ondersteuner van die organisasie het hulle sterkte met hulle werk toegewens en onderstreep hoe waardevol spanwerk is om die uitdagings binne die gemeenskap aan te spreek, eerder as individuele pogings wat nie altyd volhoubaar is nie.
Nicolette en Anneline Campbell saam met die voedingskemakoördineerder, Heila Groenewald.
Kolwyntjies is deur Heila Groenewald (regs) uitgedeel om die okkasie te vier. Foto's: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'