Die inwoners het geslaap maar is deur die mans wakker gemaak en gedreig. Volgens inlgting was die mans gewapen met 'n rewolwer, 'n mes en 'n koevoet.
Die 54-jarige man is deur die vermeende rowers, geklee in donkerkleurige klere, wolhandskoene en klapmusse, vasgemaak, wat geld van hom geeïs het. Hierna is die 70-jarige vrou, wat op die onderste verdieping was, ook vasgemaak en gedreig.
Sy het 'n besering aan haar linkerwang opgedoen toe een van die verdagtes haar met die rewolwer se kolf geslaan het.
Volgens inligting het die verdagtes selfone, juwele, drie televisiestelle en ook die slagoffers se bankkaarte geneem.
Na hulle rooftog het die rowers van die misdaadtoneel gevlug in die slagoffers se silwerkleurige B-klas Mercedes Benz. Die voertuig is later die dag verlate gevind agter 'n kuierplek in JCC-kamp. Die spaarwiel, domkrag en moersleutels is uit die motor verwyder.
Geen arrestasies is nog gemaak in verband met die voorval nie en die vermeende rowers, vermoedelik in hulle twintigerjare, is steeds op vrye voet.
'n Saak van huisroof en diefstal van 'n motorvoertuig word ondersoek deur Speurder-kst Donovan Geswindt van die SAPD Da Gamaskop. Enige persoon met inligting kan hom kontak by 044 606 2272.
Misdaad in Sektor 2
In Maart vanjaar het Sektor 2, wat insluit Bayview, Hartenbos, Seemeeupark, Islandview, Num Num, Hartenbos Heuwels en Aalwyndal, gemeenskapspetrollies ook genoem die Blouwitlig-projek geloods waartydens lede van die publiek in samewerking met die SAPD hulle woonbuurte patrolleer.
Sedertdien het die voorkoms van veral huisbrake in die area, volgens die kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie, kapt Wollie Fourie, noemenswaardig afgeneem.
Ao Tommie Kleynhans, Sektor 2- bevelvoerder wat die Blouwitlig-projek geïnisieer het, sê vandeesweek se voorval is die eerste huisroof in dié area sedert einde 2012.
"Ons het seker gemaak dat daar na afloop van Dinsdag se huisroof, selfs groter sigbaarheid van patrolliemotors in die omgewing van die misdaadtoneel is, soveelso dat die slagoffers ten spyte van hulle traumatiese ondervinding, wel veilig genoeg gevoel het om Dinsdagnag in hulle huis te bly," het Ao Kleynhans aan die Advertiser gesê.
Die slagoffers kon teen druktyd nog nie bereik word vir kommentaar nie.
Enige persoon met navrae rakende die Sektor 2-gemeenskapspatrollies, kan ao. Kleynhans kontak by 082 522 1709.
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.
Die toneel van 'n huisroof wat vroeg Dinsdagoggend 5 September in Neelsstraat, Menkenkop plaasgevind het. Die inwoners het geslaap maar is deur drie gewapende rowers wakker gemaak, gedreig en beroof. Foto's: Dave van der Merwe

'n Sewentigjarige vrou is huisroof beseer
toe vermeende rowers haar met die kolf
van 'n rewolwer in die gesig geslaan het.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER JOURNALIST
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'