MOSSELBAAI NUUS - Dis 'n gewoel en gewerskaf by die De Bakke Santos-oord waar opgraderings tans aan een chalet, een ablusieblok en die oordbestuurder se woning baie goed vlot.
Volgens Brian Singer, die uitvoerende hoof van die Singer Group wat tans die oord in ooreenkoms met die Mosselbaai-munisipaliteit bestuur, is dit algemene praktyk dat opgraderings aan een van elk van die eenhede gedoen word in ooreenstemming met kontraktuele ooreenkomste sodat voorgestelde verbeteringe deur die munisipaliteit en die Singer-groep goedgekeur kan word voordat met grootskaalse verbeteringe voortgegaan sal word.
"Ons is baie opgewonde oor die verbeteringe.
"Die Singer-groep is oortuig dat die verbeteringe wat aangebring word, onder meer 'n verbeterde dakstruktuur vir die chalets en meer hoë kwaliteit moderne, maar duursame toebehore in die ablusieblokke, beter waarde vir geld vir die toeris sal meebring," het Brian Singer gesê.
Hy het vanuit Londen berig dat die oord se bestuur die verbeteringe vir sover moontlik in oorleg met gereelde kampeerders beplan het.
"Ver meer as 90% van die kampeerders oor die Desembervakansie is herhaalde besoekers, hulle mening en gerief is vir ons belangrik."
Die Singer-egpaar, wat self jaarliks by die oord uitkamp, is passievol oor hul produk en die waarde vir geld wat dit vergestalt.
Singer sê die prototipe-verbeterings wat tans gedoen word, is die resultaat van maande se onderhandelinge met van die beste ontwerpers in die gasvryheidsbedryf, en spesifiek daarop gemik dat die kampeerder of vakansieganger net die beste ervaring van die oord, maar ook van Mosselbaai sal hê wanneer hulle hier kom uitspan.
Die chalets sal ook binnekant opgeknap en behoorlik toegerus word volgens die jongste, duursame standaarde. INLAS: Nie net die dakke nie, maar toegang tot die chalets word verbeter om die geriefservaring vir toeriste te verhoog.
Benewens die vervanging van die reeds afgeleefde grasdakke met behoorlike teëls, word baie interessante verbeteringe ook binne die chalets beplan en is Mosselbaai se Erfenisvereniging in die beplanning daarvan geken.
Carina Wiggill van die Erfenisvereniging het gesê baie kan gedoen word om veral die geskiedenis van De Bakke in die oord te vergestalt.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'