KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - 'n 89-jarige man is oorlede ná hy op 8 November in 'n motorongeluk met 'n laaigraaf betrokke was.
Johannes Frederik van den Heever, algemeen bekend as oom Shorty, is op 21 November, 'n dag voor sy 90ste verjaarsdag, in Life Bay View-privaathospitaal oorlede.
Oom Shorty se dogter, Freda Swart, het hartseer gespot en gesê hy het gekies om eerder saam met hulle ma, Fiona, te verjaar - sy is sowat vier jaar gelede oorlede.
Swart sê haar pa het net klein entjies nog op sy eie gery en dat sy "karretjie sy enigste onafhanklikheid" was.
Een van die hoogtepunte van sy week was om by sy vorige buurman, Lieb (Johan Liebenberg), op Fraaiuitsig te gaan pannekoek eet. Oom Shorty het die afgelope ruk in Heuwelsrust Aftreeoord op Hartenbos gewoon, maar voor dít het hy en Fiona ook op Fraaiuitsig gebly.
Die pannekoek afspraak het klokslag, eenmaal per week gebeur en dis juis op pad daarheen dat hy in die ongeluk was. Dit was op die bruggie naby Brinkley's River Village op Klein-Brakrivier.
Swart sê hulle vermoed hy het maar net nie skerp genoeg na die linkerbaan gedraai nie, en in die laaigraaf vasgery.
Sy sê hy het maar sleg seergekry in die ongeluk. Hy het onder meer gebreekte ribbes opgedoen, sowel as 'n lang sny onder sy regter arm wat 30 steke nodig gehad het. Dan was daar ook verskeie ander kneusplekke en sy motor se lugsak het sy bors seergemaak.
Swart sê die trauma op sy ouderdom was maar net te erg en hy het vinnig verswak daarna.
Sy vertel egter hoe fluks en onafhanklik haar pa was toe hy nog op Fraaiuitsig gebly het. Hy het gras gesny, tuin gemaak (hy het 'n pragtige tuin gehad) én houtwerk gedoen.
Hy was mal oor sy sport en sou gereeld vir Swart bel om te gesels oor 'n krieket-, rugby- of tenniswedstryd wat aan die gang was. As dogtertjie sou hy haar sommer in die oggend 02:00 wakker maak om saam met hom 'n boksgeveg te kyk, onthou sy.
Toe sy die Saterdag ná sy dood 'n oproep kry gedurende die rugby het sy hoeka vir haar man begin sê, "Dis nou pa...", net om te besef, maar dit kan nie hy wees nie.
Ondanks die hartseer, sê sy hy het 'n ongelooflike lewe gehad en sy sal hom onthou vir die ontsettende sagte hart wat hy gehad het. Hy kon ook soms moeilik en kwaai wees.
Oom Shorty laat sy drie dogters, Freda Swart, Fiona Johnson en Tricia Murgia agter, asook vier kleinkinders en een agterkleinkind. Sy vierde dogter, Sonja Burrows, is 'n paar maande na sy vrou oorlede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’