MOSSELBAAI NUUS - ‘n Silwer Toyota Fortuner met agt jong mense, het ná 'n roekelose jaagtog op die R102 die pad verlaat en op sy dak te lande gekom in die veld tussen die N2-snelweg en die R102.
Die ongeluk het ongeveer 14:00 Sondag, 4 Februarie, plaasgevind tussen KleinBrakrivier en Groot-Brakrivier, sowat 2km vanaf die Total motorhawe by De Dekke Spar.
Polisiewoordvoerder, sersant Laurianne Botha, het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat drie jong vroue en vyf mans, tussen die ouderdomme van ongeveer 18 tot 25, was in die ongeluk betrokke en beserings is opgedoen.
Daar is ook 'n saak van roeklose en/of nalatige bestuur aanhangig gemaak. 'n Anonieme ooggetuie van Heroldsbaai het aan Mossel Bay Advertiser gesê dieselfde Fortuner het vroeër die dag in dié kusdorp voor die roomyswaentjies na bewering doodeenvoudig in die pad gestop voor die ablusie-geriewe, uitgeklim, 'n groot geraas gemaak en voertuie wat agter hulle was kon nie verbykom nie. "Die voertuig het 'n Mosselbaai-registrasienommer en daar was ook 'n stamp agter op die voertuig," het die ooggetuie vertel.
Volgens inligting op sosiale media het dieselfde voertuig se insittendes by die Total motorhawe by De Dekke op GrootBrakrivier amok gemaak, waarna die polisie gekontak is. Hulle het egter weggery waarna die ongeluk gebeur het.Die Silwer Toyota Fortuner lê op sy dak tussen die R102 en die N2. Foto: Lynette Panaino
Lynette Panaino en 'n vriend was in 'n hul grys Audi Q2 in die rigting van GrootBrakrivier op pad toe sy die Silwer Toyota Fortuner gewaar, wat vanaf die Total motorhawe op Groot-Brakrivier in die rigting van Klein-Brakrivier aangery gekom het.
" Ek het ‘n foto van die landskap geneem toe die Fortuner in ons baan inbeweeg en ons net-net gemis het. Agter ons het hy die pad verlaat, oor die heining gerol en op sy dak tussen die bosse tot stilstand kom,” vertel sy.
"Ons het dadelik gestop maar die voertuig was in die laagte met digte bosse en ons kon nie die voertuig bereik nie." Volgens Panaino het 'n persoon van die plaaslike buurtwag die Fortuner vanaf die motorhawe gevolg.
Hy het vir Panaino en haar vriend gewys dat hy die polisie gekontak het om 13:54. Haar oproep na 'n ambulansdiens was 14:09. "Die GrootBrakrivier polisie was vinnig op die toneel," sê sy. "Van die insittendes, eers twee vroue en toe drie mans het naderhand by die pad uitgekom maar ander was nog by die voertuig."
"'n Man het ook later opgekom na die pad en met 'n polisieman gestry," sê sy. Mossebaai brand-en-redding en die ambulansdienste het ook op die toneel aangekom. Beseerdes is na die hospitaal geneem vir behandeling. Die aard van die beserings is egter onbekend.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’