MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai se burgemeester Dirk Kotzé het 'n ontbyt vir sakeleiers, mediaverteenwoordigers en munisipale raadslede aangebied.
Die ontbyt het op Dinsdag, 11 Maart by die Mosselbaai Gholfklub plaasgevind. Gaste het 'n stewige ontbyt geniet met 'n pragtige uitsig oor die baan en die omliggende see.
Die geleentheid is deel van 'n fondinsameling. Geld wat van die ontbyt ingesamel word sal na die Burgemeestershulp- en Liefdadigheidsfonds gaan.
Die tema vir vanjaar se ontbyt was "Inklusiewe leierskap: impakvolle plaaslike regering leierskap die sleutel vir 'n voorspoedige Suid-Afrika".
Spesiale gasspreker, dr Marlene le Roux, het oor die tema gesels. Le Roux is 'n gestremde- en vroueregte-aktivis in Suid-Afrika, medestigter van die Women's Achievement Network for Disability, en is uitvoerende hoof van die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad.
Toe sy drie maande oud was, het Le Roux poliomiëlitis (polio) opgedoen, 'n virus wat verlamming kan veroorsaak en hoofsaaklik kinders affekteer. Die virus het haar met 'n mobiliteitsgestremdheid in haar regterbeen gelaat.
Le Roux het gepraat oor hoe die kunste sosiale verandering teweeg kan bring, en die belangrikheid van leierskap om daardie verandering aan te moedig.
"Die kunste kan geleenthede skep vir stories om vertel te word, om die stemme van die gemarginaliseerdes te versterk en om die stories van die onderdruktes te vertel," het Le Roux gesê.
Dr Marlene le Roux en burgemeester Dirk Kotzé. Foto: Gabriélla Siebritz
Le Roux het ook kopieë geskenk van Look at Me, 'n boek wat uit foto's en stories van 23 vroue met gestremdhede in Suid-Afrika bestaan. Die boek is deur Le Roux saamgestel.
Sy het ook kopieë van Die Wellingtonse Klopse geskenk, 'n boek wat die geskiedenis van bruin mense se tradisie van die Kaapse Klopse-parade in Kaapstad uitlig.
Die boek is deur Le Roux en dr Michael le Cordeur, in samewerking met twee onderwysstudente van Stellenbosch Universiteit, Allison Hoffman en Leandra Jantjies saamgestel.
Musiektalent is ook vertoon. Rylan Lemmetuis (14) het 'n pragtige vertolking van die liedjie, Colours of the Wind deur Judy Kuhn, gelewer, terwyl Jovann Rocher (13) Moon River deur Frank Sinatra elegant op die viool gespeel het.
'n Spesiale gedig is ook deur plaaslike digter, Lluyle Arendse gelewer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’