MOSSELBAAI NUUS - Rienie Human is 'n gesoute Mosselbaaier met 'n besondere hart vir haar mede-inwoners. Sy is iemand wat voortdurend betrokke is by projekte en inisiatiewe wat daarop gemik is om ander se lewens op een of ander manier beter te maak. Van 'n koor wat sy op die been gebring het om Sondagaande in die hospitaal vir siek pasiënte te gaan sing, tot rek-en-strekoefeninge om mense te help om gesonder en aktiewer te leef - Rienie is altyd bereid om haar tyd en energie te gee.
Vertel ons 'n bietjie van jouself - wie is jy en wat doen jy? Ek is Rienie Human, 'n afgetrede onderwyseres met 'n natuurlike aanvoeling en omgee vir my naaste. Ek het altyd 'n behoefte om my "bietjie" kunstalent en liefde vir sport met ander te deel. Dit het my deel gemaak van 'n swemgroep, 'n oggend-strekgroep en 'n mosaïekgroep. Ek was ook vir 10 jaar voorsitter van die Mosselbaai-tennisklub.
Hoe lank woon jy al in die Mosselbaai-omgewing? Ons woon sedert 1980 hier. Wat is jou gunstelingding van Mosselbaai? Mosselbaai se pragtige natuurskoon en sy wonderlike mense.
Wat doen jy graag in jou vrye tyd? Kuns, stap, joga, swem, bak en brou - en ek deel dit graag met diegene om my. Shared joy is double joy!
Wat is iets van jou wat mense dalk nie weet nie? Ek is 'n oop boek - soms baie laf, soms ernstig. Ek het amper tydens Covid in die moeilikheid beland toe ek onwettig gaan swem het! Ek het ook eendag drie sakkerollers in Harry Giddey-park agternagesit en so 'n geraas gemaak dat hulle die beursie vir my gebring het. Ek het dit toe vir die ietwat ouer paartjie gaan teruggee!
Wie of wat het die grootste invloed op jou lewe gehad? Sekerlik my ouers, wat in my geglo het, en veral my pa, wat tot op 95-jarige ouderdom met 'n dankbare hart geleef het en elke dag 'n uur lank gestap het.
Waarop is jy die trotsste in jou lewe? Natuurlik my man en kinders, maar ek is ook diep trots op my mosaïekdroom wat in 'n groepsdroom verander het - en natuurlik op die wonderlike resultate en op die hele span vasbyters. Dit verander lewens, skep doelwitte en bring vreugde. Daarom: gedeelde vreugde!
Wat is iets wat jy nog graag wil bereik of doen? Om mense en die omgewing nog mooier te maak met my "bietjie" gawes. Ek wens net ek was 15 jaar jonger, want daar is soveel magic in ons mense wat net ontgin moet word! Ons sal 'n goue-medalje-land wees!
As jy enige persoon vir koffie kon nooi, wie sou dit wees en hoekom? Dr. Edith Eger, wat The Choice geskryf het, asook Rassie Erasmus!
Wat is een ding wat jy graag vir die mense van Mosselbaai wil sê? Moenie vra wie dit gaan doen nie en moenie dink jy is te oud nie. Klim in en begin die verandering maak wat jy graag wil sien. Elke klein positiewe verandering is aansteeklik en kring wyer en wyer uit en maak uiteindelik 'n groot verskil.
Nomineer ons volgende 'Ons Mens' Wil jy iemand vir hierdie weeklikse insetsel nomineer? Dit kan enigeen in die Mosselbaai-omgewing wees wat jy meen 'n positiewe verskil in ons gemeenskap maak. Stuur jou nominasie na [email protected] of WhatsApp dit na 072 599 8533. Sluit asseblief die volgende in: Die naam van die persoon wat jy nomineer, waarom jy dié persoon nomineer, jou kontakbesonderhede en die genomineerde se kontakbesonderhede. Wie weet - dalk is jou plaaslike held ons volgende 'Ons Mens'!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’