Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het verlede week met senior bestuurslede van PetroSA vergader nadat verskeie inwoners van Mosselbaai op Woensdag, 5 Augustus by die Mossel Bay Advertiser gekla het oor ‘n sterk ‘gas’ reuk wat oor Mosselbaai hang.
Inwoners van Danabaai, Heiderand, Asla Park en KwaNonqaba het gesê dit is nie die eerste keer wat hulle die reuk ruik nie. Hulle het gekla oor onder meer naarheid en hoofpyne.
Op Vrydag, 7 Augustus het die betrokke partye, na aanleiding van die klagtes vergader.
Woordvoerder van die munisipaliteit, Herman Pieters sê daar is tydens die vergadering beslis dat die saak dringende aandag sal kry. “’n Tegniese komitee sal aangestel word waarvan die Tuinroete-distriksmunisipaliteit deel sal wees. Die oorsaak van die probleem sal vasgestel word.”
Pieters sê inwoners moet verstaan dat, die proses wat by PetroSA gevolg sal moet word om die reukprobleem op te spoor, tydsaam kan wees.
“PetroSA se bestuur is ten volle gewillig om die probleem op te los. Dit is prioriteit.”
Vorige artikel: Inwoners kla oor 'gas' reuk
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'