MOSSELBAAI NUUS - Die konsep van 'n ondergrondse vullisdrom is besig om momentum te kry in Mosselbaai en omliggende areas.
Volgens John Horne van Green Jobs word ondergrondse vullisdromme reeds die afgelope 15 jaar in Europa gebruik.
"Ons het ongeveer vier jaar gelede begin om dieselfde konsep in Gauteng en Kaapstad te implimenteer en het die afgelope jaar die vullisdromme op Mosselbaai begin gebruik."
Die vullisdrom word onder die grond geïnstalleer en Horne sê daar is 'n paar redes waarom die gebruik van hierdie vullisdromme so gewild is. "Daar is geen reuke nie, dit is ekonomies en bespaar ook kostes ten opsigte van spasie omdat die vullisdrom hoë volumes kan hanteer." Hy sê boonop vertoon die vullisdrom netjies. Aan die Tuinroete word hierdie vullisdromme tans by winkelsentrums, skole, besigheidspersele, vakansieoorde en hospitale geïnstalleer.
Horne sê enige persoon of besigheid mag hulle swart vullissakke daarin gooi. "Geen blousakke word toegelaat nie omdat dit deur die Mosselbaai-munisipaliteit vir herwinning hanteer word." Inwoners is welkom om van hul swart vullissakke in die vullisdromme te gooi.
Daar is tans ook van hierdie vullisdromme beskikbaar by die Glentana-vullisterrein, De Dekke Spar, Island View (Crookstraat), by die taxistaanplek op Mosselbaai, Groot-Brakrivier se munisipale terrein, die Reeboksaal op Klein-Brakrivier asook in Seder- en Apiesdoringstrate. Horne sê nog vullisdromme is intussen ook geïnstalleer op Danabaai, Boggomsbaai en die Hartenbos Seefront.
"Daar is tans 16 vullisdromme in die Mosselbaai-omgewing en ons diens dit drie maal 'n week." Die vullisdrom kan 5 000 liter vullis vat. Volgens Horne maak hulle van 'n spesiaal toegeruste vragmotor gebruik om die dromme leeg te maak.
"Ons vervoer die vullis dan na die PetroSA-stortingsterrein. "Inwoners wat sukkel met straathonde wat hul vullissakke verskeur of mense wat in vullissakke krap, kan bloot hul sakke in een van ons vullisdromme gooi."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'