MOSSELBAAI NUUS - “Die vreugde is groot dat dié dag uiteindelik aangebreek het. Namens die inwoners, personeel en natuurlik die beheerraad van Benevolent Park, ‘n opregte woord van dank aan die Rotary Village Trust en die Mosselbaai-munisipaliteit."
"Die waarde van dié vennootskap kan nie in geld na waarde geskat word nie, maar dit sal ons in staat stel om baie werk aan ons huisies, siekeboeg, eintlik die hele terrein te doen. Broodnodige instandhouding en opknappingswerk sal nou gedoen kan word.”
Dít in kort was ‘n opsomming deur Margaret Bhana, beheerraadsvoorsitter van Benevolent Park by die ondertekening van ‘n sosiale bydrae-ooreenkoms tussen die Mosselbaai-munisipaliteit, die Rotary Village Trust en Benevolent Park, verlede week.
Die oorsprong van die ooreenkoms spruit daaruit dat die munisipale raad in 2021 ‘n vervreemding van grond langs die huidige Fynbos Heights Lifestyle Village goedgekeur het vir verdere ontwikkeling deur die Rotary Village Trust.
Dit is egter op voorwaarde gedoen, dat die trust ‘n sosiale bydrae lewer ten bate van Benevolent Park. Dit is ‘n bekende feit dat Benevolent Park reeds etlike jare swaar trek wat bekostigbare instandhouding en opknapping by die oord betref.
Die ondersteuning wat aan Benevolent Park gebied sal word, sal inter alia befonds word deur die herverkoop van erwe en heffings gegenereer deur die verkoopte eenhede by Fynbos Heights Lifestyle Village.
Die ondersteuning sal insluit opgradering, instandhouding, verskaffing van toerusting en gesondheidsorg by Benevolent Park.
Die bydrae wat gelewer sal word, het ten doel om die finansiële druk op Benevolent Park te verlig. Sodoende word daar uiteindelik ‘n veel groter doel bereik in die versorging van kwesbare gemeenskappe, soos bejaardes deur ‘n beter en meer volhoubare plek van versorging daar te stel.
Die ooreenkoms is in die munisipale raadsaal onderteken.
“Dit is inderdaad vir my ‘n voorreg om vandag, na ‘n lang pad en baie gesprekke, teenwoordig te kan wees vir die ondertekening van dié ooreenkoms. As raad glo ons in vennootskappe wat die munisipaliteit se hand sterk in die omsien na die behoeftes van weerloses in ons gemeenskap,” het die burgemeester, Dirk Kotzé, bygevoeg. Dié ooreenkoms skakel in met die doelwitte van die Mosselbaai-munisipaliteit se GROEI-strategie. Veral met betrekking tot die skep van heilsame omgewings en maatskaplike herlewing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’