GEORGE NUUS - Die toekoms van rugby in die SWD kan dalk binnekort herskryf word mits die planne van professionele sakelui realiseer.
Realiseer dié planne sal die unie nie net 'n groot finansiële hupstoot kry nie, maar sy amateurstatus na 'n professionele vlak verhoog.
Twee groot sportkonsortiums, UXI en die Multisure Corporation, toon glo belangstelling om by die SWD betrokke te raak. Albei mik om 'n meerderheidsaandeel in SWD se sakearm oor te neem.
En die potensiële uitbetaling? Finansiële rugsteun, 'n (meer) professionele struktuur en nuwe lewe vir die unie.
Vir die senior mans- én vrouespanne beteken dit onmiddellike versterking. Vir die klubs - die hart van SWD-rugby - wag broodnodige hulpbronne en ontwikkelingsgeleenthede.
Die UXI-konsortium, wat daarna mik om beheer oor die senior Arende-manspan sowel as die SWD-vroue- en o. 21-span te kry, het sekere voorstelle aan die unie se klubvoorsitters voorgelê. Betroubare bronne, wat verkies om anoniem te bly, sê dié voorstelle "lyk goed op papier..."
Die Multisure Corporation is reeds betrokke met beleggings en borgskappe in klubrugby in die SWD, die Oos-Kaap en Boland.
Twee George-klubs wat albei in die SWD se Superliga meeding, die Crusaders en Evergreens, het by hul borgskappe gebaat.
Maar die Multisure Corporation ondersoek nog alle moontlikhede, soos die unie se finansiële posisie, alvorens hulle 'n formele aanbod aan die unie maak.
Ben Brinkhuis, president van die SWD-rugbyunie, het aan Group Editors se Hugo Redelinghuys gesê die unie het by 'n keerpunt gekom. "Ná 'n seisoen waar die SWD Arende se senior manspan gesukkel het, staan die SWD-rugbyunie nou voor 'n gulde geleentheid om die groot liga te betree. Ons sukkel om tred te hou met die groot unies soos die Stormers en die Sharks. Om mededingend te wees, het ons eksterne steun nodig.
Hierdie konsortiums kan dit bring. Dit gaan ook oor meer as net geld wat ingebring word. Ons kan baat by 'n groter professionele aanslag en daarvoor het ons kundiges nodig. Rugby is 'n besigheid, en ons het sakebreine nodig om hier leiding te gee en die rugbyskip op koers te hou."
Brinkhuis sê die besluit lê eers by die klubs, wat moet kies watter aanbod die beste vir die streek is. Maar die laaste sê lê by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru).
Hy sal eers 'n deeglike ondersoek doen voordat 'n finale ooreenkoms gesluit word.
As Saru die groen lig gee, kan SWD-rugby met vertroue vorentoe kyk. Dit kan die begin wees van 'n nuwe era - op die veld én in elke klubhuis in die Tuinroete en in Hessequa.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’