Eerstens is reageer op 'n noodsein van die 142m Russiese navorsingskip, die Shanequinola Bay. 'n Russiese bemanningslid (48) was ernstig siek en moes na 'n hospitaal afgevoer word.
Dawie Zwiegelaar, NSRI Mosselbaai se stasiebevelvoerder, berig dat die skip se agent om 04:00 op 4 Augustus 'n dringende versoek deurgegee het dat die NSRI op bystand moet wees wanneer die skip hierlangs verbyvaar op pad na Port Elizabeth.
Die NSRI vrywilligers, vergesel deur 'n paramedikus van ER24, het uiteindelik die skip twee seemyl Oos van die Mosselbaai hawe se breekwater tegemoet gegaan en die pasiënt in 'n stabiele toestand aangetref. Die pasiënt is deur die NSRI afgevoer na die Life Bay View hopstaal, waar hy behandel en ontslaan is. Hy is tans in die sorg van die skip se agente, King and Sons.
Die afgelope Sondag het die NSRI in 'n welwillendheidsgebaar twee kankerlyertjies van Mosselbaai se dag gemaak toe hulle op die reddingsvaartuig die baai aangedurf het in die teenwoordigheid van die NSRI se stasiebevelvoerder, mnr Dawie Zwiegelaar, en sy bemanning. Erenst Hefer was een van hierdie seuns.
"Ons was bevoorreg om op 5 Augustus, op uitnodiging van Dawie Zwiegelaar en die NSRI, 'n bootrit te kon onderneem in Mosselbaai se waters. Erenst was al van vroegoggend af baie opgewonde om 'Oom Kaptein Dawie' te ontmoet met die geel boot.
"Ons het Oom Dawie en die res van die NSRI span van Mosselbaai om 11:00 ontmoet by die NSRI boothuis. Al die bemanning het ons en veral Erenst op hulle hande gedra. 'Oom Kaptein Dawie' het vir Erenst sy eie NSRI hoed gegee, wat Erenst dadelik met groot trots opgesit het. Voor die boot in die water gelaat is, het een van die bemanning baie deeglik die veiligheid op die boot en noodmaatreëls aan ons verduidelik.
"Die rit op die see was ongelooflik en Erenst het elke oomblik geniet, veral toe die 'stoute' ooms op die 'rubberduck' ons nat spat. Erenst het soos 'n wafferse soldaat die dek geslaan vir skuiling. Vir ons as ouers beteken dit ongelooflik baie dat daar mense is wat soveel moeite doen om vir iemand soos Erenst iets spesiaals te doen."
Mamma Coreen het selfs saam met die 'stoute' ooms op die 'rubberduck' 'n paar golwe gaan spring. Baie dankie aan 'Oom Kaptein Dawie' en die res van Mosselbaai NSRI, Erenst het onderneem om aan te sluit as hy groot is en die 'kiem in sy lyfie' dood is.
"Die laaste 10 maande was glad nie 'n maklike pad vir ons om te stap nie, slegs God in Sy groot genade is verantwoordelik dat ons die uitstappie saam Erenst kon meemaak. Ons is so afhanklik van elke gebed van die honderde mense wat vir ons bid en ons is onbeskryflik dankbaar daarvoor.
Klein dingetjies wat 'n mens as vanselfsprekend aanvaar het vir ons gesin uitdagings geword. Maar Erenst is so sterk en kla nie een dag oor iets nie, hy mis net sy maatjies baie en wil graag terug gaan skool toe," sê pa Jaco.
Met hulp van Hybrie Burger en Lizelle Muller, kon Erenst Donderdag, 2 Augustus weer begin loop na 12 weke wat hy nie kon loop nie weens 'n gekraakte been en Chemo behandeling. Huidig is Erenst in remisie en elke twee weke word sy bloed getoets. Hy ontvang ook een keer 'n maand Chemo by die Life Bay View Hospitaal.
Oudtshoorn
'n Paar dae gelede was die NSRI ook gasheer vir 12 minderbevoorregte kinders van Oudtshoorn, wat vir die eerste keer in hul lewens die see beleef het.
Hulle is ook op 'n kort vaart in die baai geneem, nadat Zwiegelaar en sy bemanning hulle deeglik voorgelig het oor die doen en late van die NSRI. Die kinders het grootoog baie opgewonde reageer op die wonderlike ervaring.
Die NSRI se bydrae was deel van 'n hele dagprogram wat die Rotariërs vir die kinders op Mosselbaai gereël het. Twaalf kinders van Mosselbaai se minderbevoorregte areas is deur Mosselbaai se Rotariërs tot bo-op die Robinson pas geneem, waar hulle die Rotariërs van Oudtshoorn ontmoet het. Oudtshoorn se kinders het saam met die Mosselbaaiers die dag in Mosselbaai kom deurbring, terwyl Mosselbaai se kinders die dag as gaste van die Oudtshoorn Rotariërs daar deurgebring het.
Benewens die bootrit het die kinders die museum besoek en ander besienswaardighede as gaste van die Rotariërs beleef.

Erenst Hefer het saam met sy ouers, Jaco en Coreen, het 'n uitstappie saam met die NSRI geniet. Dit was deel van 'n uitreikaksie van die NSRI op Mosselbaai.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS