Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die kalm wyse waarop personeel van die Mosselbaai provinsiale hospitaal vandag reageer het op ‘n onaangekondigde noodontruimingsoefening dui op ingeoefende paraatheid.
Omstreeks 11:00 het ‘n noodalarm in die hospitaalgange personeel teen ‘n brand gewaarsku.
Onmiddellik het portiere reageer deur rolstoele na die betrokke saal te neem en is pasiënte ordelik gehelp om, waar nodig met die rolstoele na ander sale te verskuif.
Ander pasiënte is deur saalpersoneel en verpleegpersoneel ondersteun om na ‘n veilige omgewing te gaan.
Letterlik drie minute nadat die alarm weerklink het, het die eerste brandweerwa en ambulanse voor die hospitaal stilgehou en het brandbestryders sistematies deur die sale beweeg om seker te maak dat die area behoorlik ontruim is.
Hierdie ondersoek was besonder deeglik en selfs die areas onder hospitaalbeddens is nagegaan om seker te maak niemand het in die sale agtergebly nie.
Tussen dit alles deur was die matrone, saalsusters en ander verpleegpersoneel kalm in hul leiersrolle en het hulle seker gemaak dat vir alle pasiënte verantwoording gedoen kan word, en dat die personeel almal by die onderskeie versamelpunte byeengekom het.
Net so vinnig as wat die oefening afgeskop het, het alles weer na normaal teruggekeer en is met die roetine-takies van versorging en verpleging voortgegaan.
Kyk 'n video hieronder.
Pasiënte is na 'n veilige omgewing geneem.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'