Video
HARTENBOS NUUS - Die NG Kerk Hartenbos het op 1 Januarie vir die 10de jaar sy gewilde Nuwejaarskonsert aangebied.
Ds. Johan Engelbrecht van dié kerk vertel die idee vir ’n nuwejaarskonsert in die tradisie van die Europese Neujahrskonzert is so 12 jaar gelede tydens ’n kuiertjie tussen twee studentevriende - hyself en dr. Leonard Hydenrych - gebore.
Beide is klassieke musiekentoesiaste. Behalwe vir sy mediese studies het Hydenrych ook die fluit in Engeland studeer; Engelbrecht speel weer die viool en span gereeld die jong plaaslike musikante by Kerssangdienste en ander feesgeleenthede in.
Hulle merk spottenderwys op: “Ons moes elkeen ’n ander beroep doen om ons stokperdjies te onderhou…”
Die idee van ’n konsert wat die plaaslike musici in ’n simfonie inspan en hier oor die feestydperk sommer die nuwe jaar op ’n hoë noot laat begin het gegroei, en vanjaar vind dit reeds vir ’n dekade lank plaas - en dis boonop gratis om by te woon. Plaaslike talent en sommer ook dié van begaafde vakansiegangers (van oud tot jonk) word saamgesnoer, en ’n verskeidenheid van musiekgenres word in ’n klassieke styl aangebied.
Video: Marius Erlank
Engelbrecht sê die program het vanjaar afgeskop met die 11-jarige Ingrid Keyser wat die immergewilde “The Sound of Music” saam met die orkes sing. Bekende plaaslike kunstenaars soos Jannie Moolman en Petronel Baard het van hul kant af bydraes soos “The Holy City”, “O boereplaas/Jantjie Pieterse” en die Barbra Streisand-Celine Dion-duet “Tell Him” saam met een van die jongmense, Eugenie Engelbrecht, gelewer.
Die talentvolle Meya Cordewener (16), ook die konsertmeester, het haar gawe op die viool ten toon gestel met ’n meesterlike vertolking van Tomaso Vitali se “Chaconne”, begelei deur die orkes; so ook die 15-jarige Misha van der Merwe op tjello met haar vertolking van Ernest Block se “Jewish Song” uit Jewish Life nr. 3, wat sy onlangs met groot welslae by ’n internasionale musiekkompetisie vir jong musikante aangebied het.
Die orkes was onder die direksie van Nicklen Gelderbloem, vierdejaarmusiekstudent aan die Universiteit van Stellenbosch se konservatorium.
“Dit was een reuseavontuur wat vir deelnemer en gehoor met groot genot en vreugde geseën het, en wat weereens bewys het dat ’n orkes die perfekte manier is om die jaar mee af te skop, want dit herinner ons daaraan dat harmonie moontlik is, selfs wanneer almal iets anders speel,” sê Engelbrecht.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’