MOSSELBAAI NUUS -
Met dagtemperature wat die afgelope naweek en week onder 20°C gedaal het, en wydverspreide reënbuie wat oor die Tuinroete-distrik val, is herfs amptelik gegroet en winter op hande.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerburo (SAW) was die grootste reënvalsyfers en vloedskade die afgelope week beperk tot die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.
Die naweek se weer lyk baie gunstig te wees. Beide Saterdag en Sondag gaan sonnig wees met geen reën. Vir Saterdag gaan die wind 9km/h wees en gaan lê die wind Sondag. Saterdag se maksimum is 17° en Sondag 18° volgens hulle voorspelling vandag, Vrydag 7 Junie.
Reënval syfers soos verskaf deur die SAW is as volg vir die Tuinroete en omliggende streke soos gemeet vanaf 1 Junie tot 5 Junie:
Tuin Roete:
Mosselbaai CBD: 85mm
Mosselbaai Kwepertuin: 87mm
Mosselbaai Robinson Pas: 105mm
Riversdal: 96mm
Riversdal Grootbos: 109mm
George lughawe: 123mm
George Witfontein: 126mm
Stilbaai: 132mm
Klein Karoo:
Avontuur: 103mm
Ladismith: 50mm
Oudtshoorn: 88mm
Meiringspoort: 120mm
Boere in Klein Karoo omgewing: 90-110mm
Groot Karoo:
Willomore: 104mm
Prins Albert: 58mm
Laingsburg: 23mm
Verskeie kusdorpe in Suid-Afrika het erg deurgeloop onder verspreide donderbuie. Sneeu en hael is ook aangemeld in verskeie streke. Berigte en video materiaal op sosiale media bevestig dat ten minste twee tornado's in KwaZulu-Natal voorgekom het en groot skade aangerig het.
Water net waar jy kyk by die Laerskool Hartenbos se parkering. Die meisie het die geleentheid nie gemis om voetjies nat te maak. Foto: Verskaf
Plaaslik op Mosselbaai het daar die afgelope naweek en ook deur die week goeie deurdringende reën geval. Die nat weer het egter twee ongelukke Dinsdagoggend, 4 Junie, op die N2 veroorsaak. Mosselbaai brand-, reddings- en rampbestuursdienste het op die afsonderlike voorvalle gereageer. Geen ernstige beserings is aangemeld nie. Motoriste word gemaan om versigtig te bestuur tydens nat weerstoestande.
Die nat weer het egter twee ongelukke Dinsdagoggend, 4 Junie, op die N2 veroorsaak. Fotos: Verskaf
Op 3 Junie was die Wolwedansdam reeds 97,70% vol. Die Ernest Robertsondam in sy bo-loop, is op 10 Mei gemeet op 98,63%. In ooreenstemming met dieselfde tyd verlede jaar was beide damme egter meer as 100% vol.
Die unieke inheemse plantegroei van die Tuinroete het hierdie reën egter nodig na ons warm somer.
Die pad onder deur die nuwe brug in Garretstraat, Voorbaai, was vir 'n geruime tyd gesluit weens water wat opgedam het. Foto: Jannie du Plessis
Volgens Chris Meyer, 'n inwoner van Danabaai wat sy eie weerstasie by sy woning bedryf, het Danabaai net oor die naweek 50mm reën gemeet. "Met die kouefront wat Dinsdag en deur die nag van die Kaap af deurgekom het, het ek tot Woensdagoggend, 5 Junie, nog 46 mm gemeet," sê Meyer.
'n Plaaslike boer, Hendrik Pienaar, het Mossel Bay Advertiser voorsien van reënvalsyfers oor verskeie van die plase in die omgewing wat tot 15:00 Dinsdag, 4 Junie gemeet is. Dit is Rooiblom 78mm, Vlakte 96mm, Sandra 128mm, Fred Vlakte102mm, Johnson 122mm, Vleesbaai 80mm en Baakfontein 98mm.
Hoë deinings en groot branders die afgelope tyd het 'n fees vir branderplankryers geskep, veral by die Punt op Mosselbaai. Foto: Jannie du Plessis