Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Nagbesoeker in Montagustraat, Mosselbaai is behoorlik nou kaatjie van die baan. Soveel so dat hy dalk selfs 'n handelsmerkambassadeur vir Checkers se Little Garden-inisiatief sou kon wees.
Tersia Marais, vryskutjoernalis en -fotograaf vir die Mossel Bay Advertiser en stigter van Stranded Marine Animal Rescue Network (S.M.A.R.T.) het al voorheen "wilde" besoekers by haar aan huis gehad, maar die muskeljaatkat wat nou al 'n ingesetene op 'n rak bokant haar werkstasie is, is 'n eerste.
Waar haar houthuis teen die kop in Montagustraat lê, is daar behoorlik 'n stukkie ongerepte natuur in haar agterplaas. Baie lief vir die diereryk in sy geheel, verwelkom sy hierdie besoekers, maar sonder om met hulle natuurlike gang in te meng.
"Êrens in Februarie vanjaar, word ek een aand wakker van 'n geluid in my kombuis. Bewapen met my monopod, sit ek toe die lig aan om ondersoek in te stel. En daar sit hierdie ding op my wasbak. Hy kyk vir my en ek kyk vir hom."
Dít was haar en Kolle, soos sy die muskeljaatkat intussen gedoop het se eerste ontmoeting. Die muskeljaatkat was van meet af aan nie vir haar bang nie en sedertdien, by die dag tuiser in haar huis.
"Hy is drie, vier aande tuis en dan weer 'n paar aande weg." Maar een ding is seker, uit foto's en videos wat sy gedurende die afgelope maande geneem het - die kat kom weer. Selfs wanneer sy gaste ontvang, het Kolle al rustig op die rak wat hy uitgekies het, die gekuier uit die hoogte betrag. 'n Plaaslike veearts en ook ander kundiges aan wie Tersia die verskynsel verduidelik het, meen dat dit beslis besonders is aangesien die dier haar duidelik vertrou. Andersyds, is dit ook glo uniek dat Kolle nie 'n verpesting in haar huis is, soos muskeljaatkatte dikwels is nie.
Kolle maak hom tuis.
Tersia voer Kolle nie, maar sit 'n bietjie water uit en beken dat haar viervoetige loseerder 'n voorliefde vir haar asdrom het. Só gebeur dit toe juis dat sy verlede Dinsdag, 15 Mei vir Kolle sien met die kartonomhulsel van 'n Checkers Little Garden-plantjie om sy nek. Doodsbenoud oor hoe sy die omhulsel sou kon verwyder, het sy kennisse wat met diere werk vir raad gekontak. Sy wou immers nie die besoeker vir ewig afskrik met 'n gewaagde reddingspoging nie.
"Gelukkig toe ek weer sien, het hy Kolle self die omhulsel van sy nek af gekry. Dit herinner 'n mens net weer hoe versigtig jy met afval moet omgaan."
Kyk 'n video hieronder:
Tersia het in middel Februarie moes afskeid neem van haar geliefde Maltese-poedel, Pumba wat op 16-jarige ouderdom vanweë kanker uitgesit moes word. Kolle het letterlik 'n week of wat daarna sy opwagting gemaak.
"My kinders het gekom en gegaan. Pumba was maar altyd daar. Ek was gebroke na sy dood. Ek glo die muskeljaatkat het gekom as 'n troos."
Kolle hou Tersia dop.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'