HERBERTSDALE NUUS - Die Herbertsdale Landbou-vereniging (HLV) staan gereed om beide aktiewe boere en enigiemand met 'n liefde vir die landbousektor te verwelkom.
Dit van die vereniging se sekretaris, Sieg Stander.
Die aankondiging volg op die vereniging se onlangse kwartaallikse algemene vergadering, waar Stander die bedrywighede en die breër rol van die HLV in die gemeenskap uiteengesit het.
Volgens Stander fokus die vereniging tans op 'n aantal kernuitdagings wat die gebied raak. Die HLV is in gesprek met verskeie rolspelers oor die volgende kwessies:
• Die herstel van die onaktiewe Herbertsdale-polisiestasie.
• Die dringende verbetering van die toestand van paaie in die omgewing.
• Die aanpak van onwettige landboubedrywighede.
"Ons reik gereeld uit na betrokke persone of instansies, hetsy regerings- of privaat, om ons lede toe te spreek en die nodige stappe te neem om probleme op te los," het Stander verduidelik.
Indien sulke instansie nie beskikbaar vir vergaderings is nie, neem die lede van die HLV dit op hulself om oplossings te vind.
As lid van Agri Wes-Kaap (AWK), neem die vereniging ook kwessies by hierdie provinsiale verteenwoordigende liggaam op.
Die uiteindelike doel van alle betrokkenheid, beklemtoon Stander, is om positiewe verandering te bewerkstellig sodat beide die plaas- en dorpsomgewing optimaal kan funksioneer.
Die vereniging dien nie net as 'n waghond nie, maar ook as 'n bron van inligting.
Die ingang na Herbertsdale. Foto: Chelea Pieterse
Met die onlangse bevestiging van bek-en-klouseer in die omgewing het die HLV byvoorbeeld kundiges oor die onderwerp as sprekers na 'n vergadering genooi.
Sakeondernemings wat produkte of dienste aan die landbousektor wil bemark, word ook aangemoedig om by die vergaderings aan te sluit.
"Ons is 'n groep mense wat lief is vir ons omgewing, vir die landbou en die natuur in geheel, en doen wat ons kan om hierdie dinge te bevorder," het Stander gesê.
Hy wys ook op die unieke samestelling van die land-bousektor in die Herbertsdale-omgewing, wat 'n wye verskeidenheid bedrywighede insluit - van die Gondwana-wildreservaat en die Jakkalsvlei-wynplaas tot graan- en gewasboere, melkprodusente, leefstylplase en selfs nog meer.
Die vereniging verwelkom ook lede wat nie aktiewe boere is nie, maar as 'vriende van landbou' 'n passie vir die bedryf, die mense en die omgewing het.
Die HLV het tans ongeveer 25 geregistreerde lede. Enigiemand wat by die vereniging wil aansluit, word versoek om Stander by 082 776 3716 of die voorsitter, Kolie Brits, by 082 514 7751 te skakel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’