MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit se deernisbeleid word allerweë as van die beste in die Wes-Kaap beskou, tog is daar heelwat inwoners wat self nie weet of hulle vir enige hulp kwalifiseer nie.
Daar is twee kriterias vir 'n deernis huishouding om te kan kwalifiseer. Eerstens kwalifiseer inwoners van eiendomme met 'n waardasie wat minder is as die bedrag deur die Raad bepaal kwalifiseer outomaties vir deernis (R81 000 vir die 2017/2018 finansiële jaar), en tweedens word inkomste in ag geneem.
Die inkomsteperk om te kwalifiseer as 'n deernis huishouding, mag nie die perk van twee maal die maandelikse ouderdomspensioenbedrag oorskry nie.
Die bruto inkomste van almal wat die huis bewoon bo 18 jaar, moet bewys van gelewer word en word in ag geneem.
Die aansoeker moet die huis bewoon of die eienaar van die eiendom wees.
Subsidiehuishoudings
Die kriteria vir 'n subsidie huishouding is 'n inkomsteperk wat nie vier maal die maandelikse ouderdomspensioenbedrag moet oorskry nie. Die bruto inkomste van almal wat die huis bewoon bo 18 jaar, moet bewys van gelewer word en word in ag geneem. Ook in dié geval moet die aansoeker die huis bewoon of die eienaar van die eiendom wees.
Proses
Om aansoek te doen vir deernis, kan die aansoek by enige Debtpack-kantoor gedoen word en vergesel wees van die laaste munisipale rekening, bewys van die rekeninghouer se ID, en 'n bewys van inkomste van almal wat die huis bewoon wat 18 jaar en ouer is. Indien werkloos, moet 'n beëdigde verklaring daaroor ook ingedien word.
Nadat die aansoek ingedien is met die nodige bewyse sal die munisipaliteit 'n kontrakteur stuur om te verseker dat die inligting wat die aansoek vergesel het, wel korrek en volledig is.
Twee keer per jaar word die deernis- en subsidiehuishoudings besoek om te verseker dat die situasie steeds dieselfde is. Sou 'n persoon met hierdie huisbesoek nie opgespoor kan word nie, word 'n brief afgegee met die versoek dat sekere inligting na die naaste kantore van Debtpack gebring moet word. Dit is van uiterste belang dat die publiek hulle volle samewerking in dié verband moet gee.
Waterlekke
Sou waterlekke by deernis en subsidie huishoudings voorkom, bly dit steeds die verantwoordelikheid van die bewoner en/of eienaar om enige waterlekke dadelik te rapporteer. Dit bly die verantwoordelikheid by elke huishouding om sy waterverbruike te kontroleer en te monitor. Sou 'n waterlek ontstaan en met die nodige dokumente gerapporteer word, kan 'n deernis- of subsidie- huishouding kwalifiseer vir 'n verlaging in die bedrag wat op die rekening verskyn weens die waterlek. 'n Deernis- of subsidie- huishouding kan kwalifiseer vir afslag op 'n waterlek mits 'n beëdigde verklaring ingedien word waarin dit blyk dat die lek gerapporteer en die lek reggemaak is. Indien daar nie die voorafgaande 12 maande reeds afslag gegee is op 'n waterlek nie, kan die huidige waterlek se uitstaande bedrag vir die nodige afslag oorweeg word. Daar sal 'n berekening gedoen word, indien daar aan die vereistes voldoen word, om die genoemde afslag toe te staan.
Voordele
Indien 'n persoon kwalifiseer vir deernis of subsidie, word 50 gratis eenhede elektrisiteit per maand toegestaan, asook afslag op basiese fooi op water per maand, en word afslag toegestaan op die vullisverwyderingsfooi, riool, brandweerfooie en kostes verbonde aan die herstel van verstopte dreine en rioolprobleme per maand.
Wanneer aansoek gedoen word vir deernis of subsidie, het die munisipaliteit die reg om verdere inligting te versoek alvorens die aansoek oorweeg word. Slegs die munisipaliteit besluit oor die goedkeur of afkeur van 'n deernis aansoek, afhangende van dokumente ingedien.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'