Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Motorfietsryers van regoor die Tuinroete het Saterdagoggend, 1 Augustus by De Bakke in Mosselbaai byeengekom om geld vir die Shark Lab-akwarium by die Punt se behoud in te samel.
Vanweë die nasionale inperking en gevolglike knou wat toerisme in Mosselbaai toegedien is, is die akwarium in ernstige finansiële nood.
Volgens Liza van Dyk wat die byeenkoms geïnisieer het, het daar bo en behalwe die deelnemers aan die byeenkoms se bydraes, verskeie donateurs na vore gekom wat gehelp het om skade aan die akwarium te help finansier. Die waterpompe het skade gekry tydens van die storms wat Mosselbaai in die onlangse verlede geteister het.
Van Dyk sê dat die akwarium 'n belangrike deel van die dorp is wat behoue moet bly. "Ek het die nood raakgesien. Die visse het amper niks meer kos nie." Sy het besluit om die motorfietsklubs vir ondersteuning te nader, aangesien hulle volgens haar altyd gereed is om te help. "There is no heart like a biker's heart," meen sy.
Bekende Mosselbaaise sakeman, Jacques Mostert wat in November 2019 sy regterbeen tydens 'n ernstige botsing in die Outeniquapas verloor het, het ook saam met sy ewe bekende Beagle-hond, Simon aan die byeenkoms deelgeneem. Lede van Mostert se motorfietsklub, MAC's was daar om hulle makker te ondersteun. Van die jongste deelnemers was klein Alexander Munro van Oudtshoorn, wat op net meer as 'n maand oud saam met sy pa Stefan by die byeenkoms was.
Riddell, die Yorkshire-terriër van Brian Meiring het egter harte gesteel. Die klein brakkie ry graag in sy eienaar se motorfiets se saalsak saam.
Die geld wat tydens die byeenkoms ingesamel is, is Saterdag deur die motorfietsryers by die akwarium oorhandig.
Kyk 'n video hieronder:
Finansiële bydraes word aan die organiseerder, Liza van Dyk (middel) oorhandig. Saam op die foto is Maryna en Blackie Swart (links) en Quentin van Loggerenberg en Theron Strauss (regs).
Stefan en Alexander Munro van Oudtshoorn.
Brian Meiring gee 'n soentjie vir sy Yorkie, Riddell wat altyd in sy motorfiets se saalsak saamry.
Vorige artikel: Motorfietsryers help akwarium kop bo water hou
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'