GROOT-BRAKRIVIER NUUS - ’n Polisieman wat van diens af was is vanmiddag, 9 September, ná ’n motorfietsongeluk op die R102 naby Groot-Brak oorlede.
Volgens die Suid-Kaap se polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het die ongeluk rondom 14:00 plaasgevind.
Spies sê voorlopige inligting beskikbaar dui daarop dat die motorfiets waarmee die slagoffer, ’n adjudant-offisier, gery het met ’n Toyota Hilux bakkie gebots het.
“Hy het ernstige beserings opgedoen en is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.”
Die insittendes van die bakkie het geen beserings opgedoen nie.
Volgens Spies het bestuur van KwaNonqaba-polisie die offisier se familie besoek om hul medelye te betuig.
Die Tuinroete-distrikskommissaris, maj. gen. Phumzile Cetyana, wat ook op die toneel was, het gesondheid- en welstandpersoneel aan die stasie en familie toegeken.
Die slagoffer se identiteit is nog nie bekend nie.
Die polisie op Groot-Brak ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’