Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Op Saterdag, 1 Mei toe 'n groep Mosselbaaiers gesellig saamkuier by 'n restaurant in Hartenbos, was dit amper moeilik om te dink gegewe die doodnormale samekoms, dat Suid-Afrikaners mooitjies 'n jaar gelede vir die eerste keer na vyf weke van totale inperking, uit hulle huise mag gekom het.
Die geleentheid was 'n fondsinsameling vir een van Mosselbaai se bekendste kankervegters, Aldrich Kruger (12).
Aldrich ly aan papillêre skildklierkanker, wat baie raar by kinders is.
Tydens die byeenkoms het die organiseerder, Anco Barker uitgewei oor Aldrich se gesondheid en genoem dat dié jong seun sedert geboorte, allermins 'n maklike pad stap. Bekend vir sy positiewe uitkyk op die lewe, is Aldrich 'n groot rugby-aanhanger. Tydens die geleentheid is ondersteunende stemboodskappe aan Aldrich vanaf Kobus Wiese, Schalk Brits en Eben Etsebeth gespeel.
Fotogalery: Mosselbaaiers wys hul hart
Vermaak is deur country sanger Hazel Stone van Oudtshoorn en Mosselbaai se eie vroulike kletsrymer, Onblusbaar verskaf. Een van die kelners by die restaurant, Amore het selfs twee items op haar ukulele gelewer, wat met groot applous begroet is.
Nuusredakteur van die Mossel Bay Advertiser en humorverteller, Cornelle Carstens was die programleier en het ook die veiling waargeneem. Onder die items wat opgeveil is was luukse akkommodasie, wildsritte, diepseehengel-ekskursies en die allermooiste rokke om maar 'n paar te noem. Van die items wat nie die verwagte prys tydens die bieëry behaal het nie, sal weer later beskikbaar gestel word as deel van 'n fondsinsameling vir Aldrich se mediese onkostes.
Verskeie plaaslike munisipale en distriks-munisipaliteit-raadslede het saamgekuier, asook die DA-kiesafdelingshoof, Jaco Londt.
"Ons het die funksie op baie kort kennisgewing gereël en ek is daarom juis so dankbaar vir die ruim skenkings en borgskappe wat ontvang is. Dit wys beslis die Mosselbaai-gemeenskap se omgeehart," het Anco Barker gesê.
Daar is uit die byeenkoms en veiling alleen bykans R25 000 ingesamel. Skenkings vir akkommodasie en reiskoste na Kaapstad wanneer Aldrich binnekort weer behandeling moet ontvang is ook geborg. Vanweë sy gesondheid, beveel sy mediese span aan dat hy nie tans lang ritte per motor moet onderneem nie.
Volgens sy ma, Lisa Kruger, begin 'n reeks toetse eersdaags en sal Aldich na verwagting in Junie weer vir behandeling in Kaapstad moet gaan.
Hazel Stone
Onblusbaar in aksie.
'n Teer oomblik tussen Aldrich en sy ma, Lisa.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'