MOSSELBAAI NUUS - Die kronkelpad van rou ná 'n geliefde se afsterwe, loop vir elkeen anders.
'n Mosselbaaise skrywer, Elisma van Zyl, is self op dié pad en wou haar ervaring daarvan met ander deel, "sodat hulle kan weet hulle is nie alleen op die pad nie; hulle mag rou soos hulle wil vir so lank hulle wil".
Van Zyl sê sy het ná haar man, Christoffel, se afsterwe 'n groot behoefte gehad om iets te lees oor spesifiek die verlies van 'n lewensmaat, maar kon bittermin vind, veral in Afrikaans.
Daarvandaan die onstaan van haar boek, Uit rou gebore.
"Dit is 'n eerlike en rou vertelling van my man se laaste dae op sy kankerpad, my ervaring as versorger en die sewe jaar lange pad ná sy dood.
"Ek wil ook graag aan mense hoop gee dat daar wel genesing op die pad is, al neem dit lank."
Sy was nog altyd lief vir skryf en het van jonks af 'n joernaal bygehou. So dan ook gedurende Christoffel se kankerstryd. "Ek het sedert my man se siekte en dood joernaalinskrywings gedoen en later begin gedigte skryf - dit was vir my 'n uitlaatklep en 'n terapeutiese proses."
Haar manuskrip is deur drie uitgewers aanvaar, maar Turksvy Publikasies was uiteindelik haar keuse. "Dit was net 'n plesier om met Marlene Malan saam te werk," sê sy.
Van Zyl vertel ook sy het in 2012 al haar eerste boekie self laat druk en uitgegee. Sedert 2019 verskyn van haar gedigte op Avbob Poetry se webtuiste en ook in Ink Skryf in Afrikaans se bundels Inkspraak 2, 3 en 4.
"Ons plaaslike digbundel, Digterstemme, verskyn in 2021 en een van my gedigte is opgeneem in Daniël Hugo se bundel oor die COVID-19-pandemie, Maskers en Mure."
Die bekendstelling van Uit rou gebore is op 15 Februarie by Blou Kombuis gehou. Van Zyl sê hulle beplan nog 'n bekendstelling op 8 Maart vir diegene wat belangstel.
Indien jy haar boek wil koop, kontak haar per e-pos op elismavz@gmail.com.
En intussen, vir diegene wat ook 'n verhaal binne hulle het, sê sy: "Ons almal het 'n storie, 'everybody hurts', vertel dit! C.S Lewis sê: 'You read to know, you're not alone'."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’