MOSSELBAAI NUUS - Vir haar het dit oor 'n beginsel gegaan, verduidelik die siggestremde Amanda Bester.
Bester is op 17 Augustus 2017 die deur gewys by die kantoor van binnelandse sake op Mosselbaai omdat haar gidshond Reo by haar was.
Op 29 Maart is daar, op grond van Bester en Reo se belewenis, uitspraak in die gelykheidshof gelewer wat behels dat niemand wat van 'n gids- of dienshond of outisme ondersteuningshond gebruik maak, hierdie reg ontneem mag word nie tensy daar grondige redes is.
Geskiedkundig
"Vir die eerste keer in Suid-Afrikaanse geskiedenis het persone met spesiale behoeftes wat van 'n gids-, dienshond of 'n outisme ondersteuningshond gebruik maak 'n voet om op te staan. Danksy Deirdre Venter se inisiatief om tot die stryd toe te tree en dit van 'n regsoogpunt aan te vat," het Pieter van Niekerk van die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
By vorige navraag, het Van Niekerk gesê dat die vereniging gereeld klagtes van hulle lede ontvang aangaande toegangsprobleme.
Prokureur Deirdre Venter van Shepstone & Wylie het die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging bygestaan om dié voortdurende en toenemende diskriminasie teen diegene wat van werkshonde gebruik maak, hok te slaan.
Venter het voorheen opgetree as 'n sogenaamde puppy raiser vir die Gidshondvereniging. "Ek kon nooit heeltemal begryp waarom ek besluit het om hierdie taak te aanvaar nie. Ek kon ook nie verklaar wat presies my na die Gidshondvereniging gelei het of wat veroorsaak het dat ek my huis, my lewe, my gesin en my hart vir 'n agt weke oue gidshondjie met die naam Luke gegee het nie," het Venter by navraag aan die Advertiser gesê.
Hierdie was egter bydraende faktore wat haar laat besluit het om haar kwalifikasies, ervaring en voorregte as 'n praktiserende prokureur te gebruik om die saak op te neem.
Die saak teen die departement van binnelandse sake het op 17 Oktober 2018 voor die gelykheidshof in Kaapstad gedien.
Daar is aangevoer dat die departement onregverdig teen Bester gediskrimineer het deur haar toegang tot hulle kantoor te weier.
In die saak, het die Gidshondvereniging opgetree in die openbare belang asook in belang van alle persone met gestremdhede wat verkies om van 'n gids- of dienshond of outisme ondersteuningshond gebruik te maak in die uitvoer van hulle alledaagse take.
Uitspraak
In Maart het Regter Saldanha beslis dat Bester se keuse om van 'n gidshond gebruik te maak om haar in haar alledaagse lewe behulpsaam te wees "is a choice worthy of protection and that cannot be removed by another person except for a justifiable cause".
Regter Saldanha het gesê dat die departement gefaal het om Bester se verlies aan onafhanklikheid te erken deurdat haar gidshond toegang tot die kantoor geweier is. Verder, het hulle geen begrip getoon vir die impak van hulle optrede op Bester betreffende die verleentheid en vernedering wat sy ervaar het nie.
Die hof het beslis dat die weiering van toegang aan Bester en Reo onregverdige diskriminasie op grond van Bester se gestremdheid is.
Die departement is gelas om stappe te neem om die behoeftes van persone met gestremdhede te akkommodeer. Dit behels die aanbring van sigbare, toepaslike kennisgewingborde by alle ingange dat gids- en dienshonde op die perseel toegelaat word. Volgehoue opleiding aan personeel asook sekuriteitswagte, hetsy permanent in diens of gekontrakteer, in die behandeling van persone met gestremdhede en die identifisering van gids- of dienshonde word vereis.
Die departement moet binne 'n tydperk van 120 dae terugvoering aan die hof gee aangaande die implementering van die voorgeskrewe maatreëls en ook hoe die departement beoog om hierop voort te bou.
Die hof het ook gelas dat die minister van binnelandse sake asook die departement 'n skriftelike apologie aan Bester moet rig vir die wyse waarop sy en haar gidshond op 17 Augustus 2017 behandel is.
Afgehandel
"Vir my het dit oor die prinsiep van die saak gegaan. Ek het gevoel hulle skuld my 'n verskoning, omdat ek gevoel het soos 'n krimineel oor hoe ek daardie dag behandel is," verduidelik Bester.
Sy wou bewusmaking skep aangaande die regte van persone wat van werkshonde gebruik maak en hierdeur bewerkstellig dat genoegsame opleiding oor die hantering van sulke persone in publieke areas geskied.
Dit sink nog in dat sy geskiedenis gemaak het. "Eintlik vermy ek die kollig. Ek is net bly ek kon 'n positiewe bydrae lewer en dat ek die Gidshondvereniging hierdeur kon help."
Venter sê dat terwyl die saak voor Regter Saldanha gedien het, sy tot 'n belangrike besef gekom het. "Ek het besef dat Luke se doel nie alleenlik was om eendag sy eienaar, Frans se gidshond te wees en hom deur die lewe te lei nie.
Dit was om my na 'n plek te lei waar ek my bydrae kon lewer om 'n verskil te maak in die lewens van persone met gestremdhede. As prokureur, het ek nog nooit 'n trotser dag in my loopbaan beleef as die dag toe ons daardie uitspraak ontvang het nie.
"Die uitspraak is ter ere van Luke en al sy mede-werkshonde, wat daagliks 'n verskil in hulle eienaars se lewens maak."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'