MOSSELBAAI NUUS - Twee belowende stoeiers van die Mosselbaai-stoeiklub het uitstekend by die Johnnie Reitz-stoeitoernooi gevaar.
Die toernooi het op Saterdag 2 Augustus in Pretoria plaasgevind en word as die grootste van sy soort in Afrika beskou. Topstoeiers van regoor die kontinent neem daaraan deel.
Joshua Bezuidenhout, een van Mosselbaai se lede, het ’n goue medalje in die o. 9-vrystylafdeling gewen en Schalk du Preez het brons in die o. 13-vrystylafdeling gewen - albei merkwaardige prestasies vir die klub.
Alexius Jooste, die Mosselbaai-stoeiklub se afrigter wat ook by die toernooi teenwoordig was, sê hy is ongelooflik trots op die stoeiers se toewyding en harde werk.
“Ons is ’n klein klub in die groter prentjie, maar ons begin reeds diep voetspore trap. Hierdie prestasies wys wat moontlik is met dissipline, deursettingsvermoë en ’n ware liefde vir die sport,” het hy gesê.
“Stoei is meer as net ’n sport. Dit is ’n kultuur, ’n leefstyl en ’n instrument vir karakter bou. Ons sien elke dag hoe dit die lewens van ons jong stoeiers positief vorm.”
Christo van Staden, die klub se hoofafrigter, deel ook in die trots en sê dit is ’n groot mylpaal vir die klub en die gemeenskap.
Die Mosselbaai-stoeiklub is vasbeslote om op hierdie sukses voort te bou en meer jongmense aan te moedig om by die sport aan te sluit.
Joshua Bezuidenhout.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’