MOSSELBAAI NUUS - Die Black Aces Football klub het opwindende wedstryde by die Youth for Change sport toernooi gehad. Dié klub van Mosselbaai, het beide sy o.17-meisie- en seunsspanne laat deelneem.
Die klub se o.17-seunsspan het die Youth For Change Sporttoernooi op Plettenbergbaai, wat van 11 tot 13 Oktober plaasgevind het, gewen.
Die o.17-seunsspan het nie net die toernooi gewen nie, maar het ook oorheers met die toekenning van die individuele pryse.
Die volgende spelers het die volgende toekennings behaal:
1. Siyabonga Thwani: Top doelwagter van die toernooi.
2. Thando Murulana: Top doelskieter met 6 doele.
3. Tumelo Mokgwabone: Top speler van die toernooi.
4. Qhama Bokolo: Top hulpafrigter van die toernooi.
Die o.17-meisiespan het ook aan die toernooi deelgeneem, en die eindronde vir die tweede keer agtereenvolgens gehaal. Hulle het verlede jaar gewen.
Vanjaar kon dié span egter nie die knoop deurhak nie en die meisies het met 1-2 vasgeval.
In September vanjaar het die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) in vennootskap met die FIFA Talent Development Scheme (TDS), die tweede uitgawe van die TDS o.15 Interprovinsiale Toernooi gereël, wat van 20 - 24 September by die Panorama Football Club in Roodepoort, Johannesburg plaasgevind het.
Black Aces Football klub se o.17 meisiespan. Foto: Oyama Sicetsha
Likhakha Ncanywa (15) en Zukhanye Sijaji (14), albei lede van die Black Aces Football-klub, het die Wes-Kaap in die Interprovinsiale Toernooi gaan verteenwoordig.
Die span het een wedstryd uit drie gewen, en moes twee wedstryde wen om deur te dring tot die halfeindronde. Ongelukkig, het hulle nie hul derde wedstryd van die dag gewen nie, wat beteken hul reis het tot 'n einde gekom.
Twee meisies van die klub, Inam Bomvana (15) en Owam Nqayi (13), is ook gekies om die Eden-streek o.15-meisiespan te verteenwoordig by die 2024 FNB Football First-sokkerfees, van 23 - 25 September, wat in Soweto by die Universiteit van Johannesburg gehou was.
Inam het die toernooi deur die storm geneem, waar sy as top doelskieter gekroon is. Sy het 6 doele in vier wedstryde aangeteken.
Sy is bekroon met 'n nuwe paar sokkerstewels en 'n sokkerbal, as 'n manier om haar te motiveer en aan te moedig om haar harde werk voort te sit veral ná haar driekuns aangeteken is.
Ten spyte van dié plaaslike klub se sukses, sukkel die spelers en afrigters met fondse om hulself en hul oefengeriewe te verbeter en in stand te hou.
Die spanne se afrigter en stigter van Black Aces Football klub, Oyama Sicetsha, sê dit is hartverskeurend om te sien dat sommige spelers nie saam met die span kan reis nadat hulle so hard in oefensessies gewerk het nie.
"Stel jou net voor as ons al ons spelers kan hê wanneer ons span reis en behoorlike oefentoerusting? Daar is soveel wat ons kan bereik," sê hy.
As jy 'n skenking aan die Black Aces Football klub wil maak, kontak Oyama Sicetsha (078 878 7323).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’