MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van Mosselbaai het op Woensdag, 23 Oktober, amptelik sy Veiliger Feesseisoen-operasies van stapel gestuur.
Die geleentheid het by Uitbreiding 23-sportterrein, naby St Blaize Laerskool, plaasgevind. Die geleentheid was oop vir die publiek en ook vir wetstoepassing.
Dié operasies is daarop gemik om veiligheid gedurende die feesseisoen te verbeter.
Verskeie takke van wetstoepassing was teenwoordig, insluitend die Mosselbaai brandweer en redding, die K9-eenheid, gemeenskapspolisiëring, verkeerspolisie en beamptes van polisiestasies van oor die groter Mosselbaai-area.
Andrew Stroebel, uitvoerende burgemeester van die Tuinroete-distrik, het 'n verwelkomingstoespraak gelewer. Hy het gesê as gevolg van die Tuinroete se gewildheid gedurende die feesseisoen, is die munisipaliteit en wetstoepassers toegewyd om veiligheid aan almal in dié tyd te verseker.
“Ons is goed voorbereid om die uitdaging die hoof te bied,” het hy gesê. "Die SAPD en sy vennote in wetstoepassing het my vertroue."
Die polisiemag se marsjeerorkes het ook lewendige musiek verskaf waarop die beamptes van die veld af marsjeer het.
Foto: Gabriélla Siebritz
Verskillende wetstoepassing stalletjies is op die veld opgerig waar toerusting van naderby beskou kon word. Skoolkinders was ook in die gehoor.
Leerders van Hoërskool Sao Bras, Hill Crest Secondary School en St Blaize Laerskool, het die dag se gebeure waargeneem.
Die Garden Route Noodoproepsentrum sal ten volle in werking wees gedurende die feesseisoen, en is 24/7 beskikbaar.
In die geval van nood, kan dié sentrum by 044 805 5071 gekontak word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’