MOSSELBAAI NUUS - Sondag, 6 Oktober, was die finale ronde van die Mr Global internasionale kompetisie, wat in Bangkok, Thailand plaasgevind het.
Suid-Afrika se deelnemer was Anton Siebert van Mosselbaai, 'n onderwyser by Diaz Primêre Skool.
Gedurende die week van 23 September, was Siebert in Bangkok vir die voorlopige deel van die kompetisie.
Die deelnemers in die kompetisie het skedules gekry wat 'n verskeidenheid interessante aktiwiteite ingesluit het, soos 'n militêre kamp saam met Thaise soldate en ook hoe om twee klassieke Thaise disse te kook.
Siebert het tot die top 20 deurgedring, maar is ongelukkig nie vir die top 10 gekies nie, wat beteken sy reis in Thailand moes tot 'n einde kom.
Voor die finale ronde plaasgevind het, was daar die kompetisie vir Nasionale Kostuum. Mededingers moes in 'n uitrusting wat hul tuislande en kultuur verteenwoordig aantrek.
Siebert se uitrusting is aangepas om Suid-Afrikaanse trots en sy tuisdorp, te weerspieël. Kleurvolle krale en skulpe van Mosselbaai se strande is deur vroue van die gemeenskap op sy uitrusting vasgewerk. ’n Springbokvel is ook ingewerk en verteenwoordig eenheid en ondersteuning, en ’n skild vir beskerming.
Anton Siebert in sy Nasionale Kostuum. Foto: Andrew Visagie
Deelnemers moes ook 'n 30 sekonde inleiding lewer oor hoe hulle "gentlemen with essence" is.
Toe dit Suid-Afrika se beurt was, het Siebert gesê: "Ek is 'n trotse laerskoolonderwyser en ook medestigter van 'n gemeenskapsprojek waar ons weekliks in die gemeenskap ingaan en met diere en kinders werk. Deur die diere, leer ons kinders kernwaardes soos liefde, sorg en respek. Onthou, ons moet nie net 'n herinnering nalaat nie, maar 'n blywende nalatenskap."
Op ’n vraag oor wat ’n hoogtepunt van Suid-Afrika is, het Siebert gesê dit kom alles neer op die mense en ons veerkragtigheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’