Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Hulle is tussen die ouderdomme van 26 en 63, almal jonk van gees, en gaan Mosselbaai vanjaar op ’n internasionale verhoog verteenwoordig.
Lyndans - dís wat hierdie groep vroue bymekaar gebring het.
“Ons is tans agt dansers; ’n groep vriendinne en Christene vanuit Mosselbaai wat baie lief is vir dans en saam lag,” sê een van die lede, Jeanette Jacobs.
Die groep het aanvanklik uit 11 lede bestaan.
Hulle het in Oktober goud by die American Dance Awards (Ada) se Suid-Afrikaanse kompetisie gewen. Dié kompetisie dien as ’n kwalifiseerder om dan ook in Julie aan Ada se nasionale kampioenskap in Amerika deel te neem.
Drie lede het weens persoonlike omstandighede besluit om nie deel te vorm van die groep wat in Amerika gaan deelneem nie, vandaar die huidige agt.
Die oorspronklike 11 het deel gevorm van ’n plaaslike groep, Step2Step Line Dance Academy, onder leiding van Marle Bruyns. Die agt wat egter besluit het om die Amerika-avontuur aan te pak, noem hulself nou die Rhythm Rebels. Húlle is Jacobs, Christa Smit, Seanique Williams, Anel Nienaber, Leonie Lombard, Marinda da Costa, Alicia Pottas en Tasmain Cresswell.
VIDEO: Rhythm Rebels spog met hul spanbaadjies
Video: Linzetta Calitz
Maar waar kom die naam vandaan?
Jacobs vertel: “Ons het snaaks genoeg almal saam, na ons goud in Pretoria gewen het, in die spanbussie gesit en name rondgooi. Die kriteria was dat ons agt almal baie sterk, kreatiewe, dinamiese dames is wat baie goeie ritme het, en dat ons al agt ook ’n bietjie van ’n rebelse streep in ons het.”
En siedaar, hulle is die Rhythm Rebels gedoop.
Die groep het in November al begin met beplanning vir fondsinsameling om hulle te help om in Amerika uit te kom.
Lede van die publiek kan hulle só ondersteun:
- 11 Februarie: Die groep bied elke Woensdagaand om 19:00 ’n Quiz & Games Night by die Blou Kombuis in Klein-Brakrivier. R50 per persoon.
- 13 Februarie: ‘Back to the 80’s - Denim & Diamonds’-dans by De Dekke. Fondse gaan aan die Rhythm Rebels. Die partyjie begin om 19:00 vir 19:30. Kaartjies is R50 per persoon en daar sal pryse wees vir die paartjie en die persoon wat die beste aangetrek is. Navrae/besprekings: Christa by 082 040 7586.
- 20 Maart: Die groep hou ’n gholfdag by Mosselbaai-gholfklub. Die dag begin om 11:00. Dit kos R3 500 per vierbal en sluit twee gholfkarretjies, ’n goody bag en ’n buffetete saam met die prysuitdeling en veiling in. Navrae/besprekings: Christa by 082 040 7586.
Oefen oefen oefen
“Ons het in Januarie hard aan ons nuwe kompetisiedans begin oefen. Ons is ook baie bevoorreg dat Bakgat ons daar laat oefen.”
Tevore het hulle in sommige van die spanlede se motorhuise geoefen. “Maar ons het aanhou glo in God wat ons rigting en pad sal oopmaak, en is nou baie dankbaar vir ’n plekkie om te kan oefen.”
Agter: Leonie Lombard, Jeanette Jacobs, Anel Nienaber en Seanique Williams. Voor: Alicia Pottas, Christa Smit en Marinda da Costa. Foto: Linzetta Calitz
Jacobs se die groep neem as pro-ams aan die volwasse ouderdomskategorie deel. “Ons dans spesifiek die lyndansstyl, en gaan in Amerika ’n bietjie rebels wees en ’n paar kreatiewe style bymekaargooi om kontemporêre lyndans op te voer.”
Die dans moet drie minute en 20 sekondes lank wees.
Hoewel hulle net een dans in Amerika gaan doen, doen hulle menige ander danse by hul oefeningsessies om sodoende fiks te bly, en ook natuurlik vir die pret daarvan.
Dans het ook ’n spesiale betekenis vir elkeen. Vir Jacobs is dit ’n ontsnapping van die spanning van die daaglikse lewe en ’n geleentheid om vriendskappe te vorm. Nienaber stem hiermee saam. Williams sê sy dans tot eer van God, omdat elke asem en beweging aan Hom behoort. Da Costa sê sy dans om te ontsnap, skakelings te maak en in die oomblik te lewe - met musiek, goeie vriende en vryheid. Cresswell sluit haar betekenis by 2 Korintiërs 3:17 aan en sê dans maak haar beker vol - dis ’n plek van lag, susterskap en oorgee. Sy dans vir God se glorie, wetend dat daar waar die Gees van die Here is, vryheid is. Smit sluit hierby aan en sê sy dans op die ritme van haar hart, op die liedjie wat Jesus elke oggend vir haar skryf.
“Ek dans soos asem in gebed; saam met vriende deel ek vreugde - elke beweging ’n stille dankie, elke draai ’n fluistering van eer aan God,” sê Pottas.
Die Rhythm Rebels is ongelukkig nie tans in die mark vir nuwe lede nie, aangesien slegs dié wat gekwalifiseer het nou in Julie mag deelneem. Intussen stel hulle voor dat enigeen wat graag wil begin lyndans doen, vir Step2Step kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’